Peyper in Sesnasies-aksie

Jaco Peyper. Foto: (AP Photo/Shuji Kajiyama)

Suid-Afrika se ervare toetsskeidsregter, Jaco Peyper, sal in beheer van die Sesnasies-stryd tussen Engeland en Ierland op Twickenham wees.

Die Bloemfonteinse regsman het gedurende die Wêreldbeker-rugbytoernooi in Japan sy 50ste toetswedstryd geblaas toe hy die man in die middel vir die Wallis/Frankryk-kwarteindstryd was.

Peyper is egter deur Wêreldrugby oor die vingers getik omdat hy ná die wedstryd vir ’n foto saam met Walliese ondersteuners poseer het.

In die foto het die Rooidraak-ondersteuners met Frankryk se Sebastien Vahaamahina gekgeskeer. Peyper het gedurende die wedstryd die groot Fransman met ’n rooi kaart van die veld gejaag nadat hy Wallis se Aaron Wainwright met sy elmboog bygedam het.

Talle rugbykenners, onder wie die voormalige Engelse vuurvreter James Haskell, het Peyper se halfeindstryd-afwesigheid as “verregaande” bestempel.

Die wedstryd tussen Engeland en Ierland vind op 23 Februarie 2020 plaas.

Dan is Aimee Barrett-Theron in beheer van die openingswedstryd van die Sesnasies-vrouekampioenskap tussen Frankryk en Engeland op 2 Februarie 2020.

“Ons is baie trots op Aimee en Jaco, het SA Rugby se skeidsregterbestuurder, Banks Yantolo, gesê.

“Die feit dat hulle gereeld onder die beste skeidsregters op die internasionale verhoog tel, is ’n groot eer en ’n uitstekende beloning vir hul harde werk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

George in Bloem. ·

Hy sal maar net mooi moet oplet saam met wie hy homself laat afneem?????????

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.