Pichot gaan op tone trap

Agustin Pichot (Foto: La Maňana Neuquén)

Agustin Pichot (Foto: La Maňana Neuquén)

As Agustin Pichot, die nuwe ondervoorsitter van Wêreldrugby (WR), sy sin kry, sal spelers nie meer `n vrypas hê om ná drie jaar vir `n ander land te speel nie.

Pichot (41), wat in 71 toetse vir die Argentynse Poemas tussen 1995 en 2008 gespeel het, is eergister saam met Billy Beaumont van Engeland (die nuwe voorsitter) gekies om WR te lei.

Pichot is die sterk dryfkrag agter die oplewing van Argentynse rugby. Hy het jare lank gepleit dat Argentinië ten volle professioneel moet raak, in die Rugbykampioenskap moet speel  en  `n span in die Superrugby-reeks moet hê.

Hoewel die Jaguares nog nie aan die verwagtinge in die Superreeks voldoen het nie, is die grondslag gelê, want  die land se spelers hoef nou nie, soos in Pichot se geval, hul brood en botter en Frankryk en Engeland (ook in Australië) te gaan verdien nie.

Pichot se voorstel dat spelers eers ná vyf jaar vir ‘n ander land in aanmerking mag kom, sal soos manna uit die hemel vir die Suid-Afrikaanse rugbybase wees, maar sal nie in baie ander lande verwelkom word nie.

Ierland sal juis twee Suid-Afrikaners, CJ Stander en Richardt Strauss, vir die Ierse toerspan kies wat aanstaande maand in drie toetse teen die Bokke speel.

Die oud-stut van die Sharks Wiehann Herbst sal aanstaande jaar kwalifiiseer om vir die Iere te speel.

Skotland se afrigter, Vern Cotter, het ook twee Suid-Afrikaners, WP Nel en Josh Strauss, in die toerspan ingesluit wat in twee toetse teen Japan sal speel.

Die kans dat Pichot se voorstel aanvaar sal word, is skraal, want WR het juis in Oktober verlede jaar sy beleid oor kwalifisering hersien.

Ek is seker dat die vier tuisunies, Engeland, Skotland, Ierland en Wallis, daarteen sal stem, só ook Frankryk, Nieu-Seeland en Australië, wat jare lank op spelers uit die Suidsee-Eilande staatmaak. Die VSA is ook besig om die Suid-Afrikaanse spens te help stroop.

Dis hoekom die Irish Independent Pichot soos volg aangehaal het: “Iemand sal my wil doodmaak, maar ons sal dit moet verander.”

Dit bly ‘n tameletjie vir rugbybase, só ook die beleid om spelers wat oorsee te speel, vir hul spanne te oorweeg.

Die Bok-afrigter, Allister Coetzee, moet binnekort sy Bok-kaptein (en oefengroep) aanwys vir `n oefenkamp in Stellenbosch. Sal hy Duane Vermeulen (Toulon) as kaptein oorweeg? Wat van Bryan Habana (ook Toulon), Frans Steyn, Bismarck en Jannie du Plessis (almal Montpellier) en Francois Louw (Bath)?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.