Pienaar groet na 20 jaar

Ruan Pienaar. (Foto: Johan Pretorius/Gallo Images/Cheetahs/Facebook)

Ruan Pienaar, een van Suid-Afrika se mees gerekende skrumskakels, speel Vrydag in sy laaste kragmeting vir die Cheetahs in die Suid-Afrikaanse Beker teen Griekwas.

Die 40-jarige speler het sy eerste kragmeting vir die Vrystaters op 14 Februarie 2004 in ʼn vriendskaplike wedstryd teen die Westelike Provinsie op Shimlapark gespeel – die komende afskeidswedstryd teen die Poubloues word ook op Shimlapark beslis.

Pienaar het sy hoërskoolrugby vir Grey College gespeel en was in 2002 vir die Vrystaters se Cravenweekspan in aksie.

Hy het ʼn rits goue oomblikke wat hy sal koester – die grootste was natuurlik die Rugbywêreldbeker in 2007.

“Sjoe! Ek het ʼn hele paar herinneringe, veral die Britse en Ierse Leeus en dan natuurlik ook my debuut vir die Bokke,” het hy vandag gesê.

Pienaar is ’n Springbok-veteraan met 88 toetspette agter sy naam. Die skrumskakel is in Bloemfontein gebore en getoë en is die seun van die Vrystaatse rugby-legende Gysie Pienaar. Sy pa het ook vir die Bokke uitgedraf.

Die skrumskakel het in 32 Curriebeker- en 67 Superrugbywedstryde vir die Sharks in Durban gespeel. In 2010 het hy by Ulster in Ierland aangesluit en in 141 wedstryde gespeel met ʼn allemintige 877 punte agter sy naam.

In 2017 het hy vir Montpellier in Frankryk uitgedraf, waar Vrystaters soos Jan Serfontein, Frans Steyn, Johan Goosen en Henry Immelman sy spanmaats was.

Frans Steyn (Foto: Toyota Cheetahs)

Pienaar het sy buiging vir die Springbokke in 2006 se Drienasies-reeks teen Nieu-Seeland gemaak.

Op 25 Julie 2009 het hy op losskakel vir die Springbokke diens gedoen in hul sege van 28-19 oor die All Blacks in Bloemfontein.

Ná al die jare se rugby, is ʼn wedstryddag nie iets wat hy sommer gaan mis nie.

“Ek is so op my senuwees, maar sodra die fluitjie vir die afskop vir die wedstryd blaas, is ek meer op my gemak.”

Wat teenstanders betref, het hy ʼn waardering vir die spel van Frankryk se Antoine Dupont en Nieu-Seeland se Aaron Cruden.

Pienaar sê hy is baie geseënd om steeds op sy ouderdom rugby te speel en bevoorreg om deel van die Cheetahs-groep te wees.

“Dit is ʼn ongelooflike groep spelers en ek gaan die spel ontsettend baie mis – veral tydens oefening en in die kleedkamers.”

Frans Steyn en Pienaar was kamermaats op hul eerste Boktoer.

“Vrydag is op ʼn manier ʼn hartseerdag vir Vrystaatrugby. Ruan is ʼn ongelooflike speler en mens,” het Steyn gesê.

Ruan Pienaar. (Foto: Ulster Rugby)

Steyn is deesdae die Vrystaters se direkteur van rugby en hy meen dat hy Pienaar altyd vir sy mededingende geaardheid sal onthou.

“As ek droogmaak op die veld, was Ruan daar om vir my raad te gee.”

Pienaar sal darem nog in die rugbykringe as o.21-afrigter by die Cheetahs te sien wees.

“Ek het nog baie om te leer, maar een ding wat ek onder die jongelinge wil kweek is om hard te werk vir dit waarin jy glo. As die kans homself voordoen, moet jy dit met albei hande aangryp,” het die legendariese skrumskakel afgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ore ·

Ek ken hom nie maar wat ek van hom op die veld gesien is dat hy ‘n kompeterende persoon is maar wat hom nooit skuldig aan enige ongeoorloofde spel skuldig gemaak het nie. Kan nie onthou dat hy ooit met skeidsregters geredekawel het nie. Mooi voorbeeld vir jong mense. Sterkte, en ek glo jy sal baie waarde in jou nuwe rol tot rugby byvoeg

Ronél ·

Wat ‘n rolmodel vir alle mans van alle ouderdomme-man met inbors en integriteit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.