Pienaar of Goosen, nie Jantjies, hoort by Bokke

Elton Jantjies. Foto: Geoff Caddick/AFP.

Die oud-Springbokafrigter Kitch Christie het altyd gesê dat as ʼn speler of afrigter uit noodweer nader getrek word, hy ʼn “hospitaaljoppie” doen.

Die Springbokafrigter Jacques Nienaber (en die direkteur van rugby, Rassie Erasmus) was die afgelope week in ʼn blik gedruk voor die Rugbykampioenskap met net een fikse losskakel, Manie Libbok, wat saam met die groot groep Bokke vir komende toetwedstryde teen die Wallabies, All Blacks en Poemas geoefen het.

Handré Pollard sukkel met ʼn kuitbesering wat hy by sy Engelse klub, die Leicester Tigers, opgedoen het en Damian Willemse het las van ʼn kniebesering.

Boonop is Frans Steyn se loopbaan allig daarmee heen en hy is nie oorweeg nie.

En toe trek hulle vir een van die stout seuns van Suid-Afrikaanse rugby, Elton Jantjies, die eerste keer sedert Augustus verlede jaar weer nader.

Dis sekerlik enige afrigter of keurder se reg om te kies wie hy wil, maar word die openbare sentiment nie ook in ag geneem nie?

Jantjies is verlede jaar uit Argentinië huis toe gestuur nadat sy beweerde verhouding met die Bokke dieetkundige, Zeenat Simjee, op die lappe gekom het.

Jantjies, wat in Japan gespeel het, het sy loopbaan in Frankryk voortgesit waar hy vir Agen in die ProD2-reeks (tweede liga) gespeel het.

Agen het sesde geëindig en volgens verslae nie juis die wêreld aan die brand gespeel nie.

Nienaber-hulle het op Jantjies se knoppie gedruk omdat hy welbekend met die strukture in die Bok-kamp is en soomloos kan inskakel.

Maar wat sal gebeur as hy dalk in die toets teen die Wallabies speel en met ʼn doelskop misluk of die bal direk uitskop?

Watter boodskap stuur dit ook aan plaaslike spelers soos Johan Goosen, Ruan Pienaar, Jean-Luc du Plessis, Curwin Bosch en Lionel Cronjé uit?

Goosen was juis verlede jaar nog saam met Springbokke se A-span op toer in die Noordelike Halfrond.

Ja, hy is op heelagter deur Jake White by die Bulle ingespan, waar hy nie tot sy reg gekom het nie.

Pienaar is in die skadu van sy loopbaan en is 39 jaar oud. Maar was die legende Victor Matfield nie 38 jaar en 172 dae oud toe hy die laaste keer die Bokke gespeel het nie?

Pienaar is ʼn veteraan van 88 toetse en meer as 350 eersterangse wedstryde.

Wie kan teen die vaardighede stry wat hy Saterdag in Bloemfontein op losskakel in die Curriebeker-halfeindstryd teen die Blou Bulle uitgestal het?

Hy was die argitek van die Cheetahs se oorwinning, want hy het geskop, getêkkel en gebreek en 22 punte aangeteken.

Die veelsydige Pienaar het in verskeie toetse vir die Bokke losskakel gespeel en weet hoe om alle toutjies te trek.

Dalk het die Cheetahs se vordering in die Curriebekerreeks daartoe bygedra, want Pienaar sal komende week nog by die Cheetahs slyp en nie by die Bokke se oefenkamp kan wees nie.

Maar verdien hy of Johan Goosen dit nie meer as Elton Jantjies om ʼn hospitaaljoppie te doen nie?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Aggie ·

Jantjies hoort glad nie in ‘n springbok span nie. Wat is fout met die afrigters as hulle so ‘n besluit neem wat ek meen met hewige weerstand van die kykerpubliek begroet sal word. Ek glo dat baie kykers elke wedstryd sal boikot.

Tubac ·

Ai Tog! Klink vir my dat die mix regestel moet word, maak nie saak hoe nie.

Mike ·

“Hy ken die strukture”…so maw die Nienaber gaan maar weer net voortploeter soos die afgelope 3 jaar….niks nuuts nie….geen innovasie….verbeeldingloos…..

Manie ·

Vergeet gerus van Droster Goosen en Wunderkind Bosch, terwyl Afdag Libbok te wisselvallig is en die Bokke se skop en storm wedstrydplan hom nie gaan pas nie. Beide Pienaar en Steyn is op amper 40 steeds strate beter.

Niklaas ·

Jantjies is glad nie meer die antwoord nie en dit sal een duur fout wees. Kies dan eerder Rob Du Preez , Pienaar of selfs Lionel Cronje van die Haaie.

JohanR ·

Solank die ou nie Wereld Beker toe gaan is alles met my OK. Hy verdien nie daar ‘n plek nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.