Pienaar skop 11, Sadie druk twee in Frankryk

ʼn Elftal punte met die skopskoen en ʼn tweekuns drieë tel tussen die Suid-Afrikaanse bydraes in die jongste ronde van die Europese klubreekse.

In die Franse Top14-reeks het die Springbok Ruan Pienaar (skrumskakel) vir vier doelskoppe en ʼn strafdoel in Montpellier se sege van 43-30 oor Oyonnax gesorg.

Op die koop toe het Nico Janse van Rensburg (slot), ʼn gewese SA o.20-speler wat Superrugby vir die Bulls gespeel het, ʼn drie vir die wenspan gedruk.

Nóg ʼn gewese SA o.20- en Superrugbyspeler, Johann Sadie (buitesenter), het twee drieë vir Agen teen Toulouse gedruk.

Laasgenoemde het egter die kragmeting met 52-25 gewen.

Die Springbok Pat Lambie het ʼn drie vir Racing 92 gedruk in sy klub se sege van 19-12 oor La Rochelle.

Lambie het Sondag binnesenter gespeel, met die All Black Dan Carter op losskakel.

Paul Jordaan (buitesenter), wat Superrugby vir die Sharks gespeel het, het ʼn drie vir die verloorspan gedruk.

Engelse Premierliga

Die oes in die Engelse Premierliga was bra skraal.

Die Bok Faf de Klerk (skrumskakel) het al Sale se punte in sy nederlaag van 3-13 teen Saracens met ʼn strafdoel aangeteken; en in die kragmeting tussen Wasps en Exeter is eersgenoemde se Bok Ashley Johnson (plaasvervanger-flank) met ʼn geelkaart gestraf.

Wasps het met 13-7 geseëvier.

Pro14-reeks

In die Pro14-reeks het die Suid-Afrika-A-speler Chris Cloete (flank) ʼn drie vir die Ierse provinsie Munster teen die Walliese streekspan Cardiff Blues gedruk.

Die Wallisers het met 25-18 gewen.

Engelse Kampioenskap

Brendon Cope (losskakel), wat o.21-rugby vir die Sharks gespeel het, het ʼn doelskop vir Jersey in sy nederlaag van 24-32 teen Ealing Trailfinders in die Engelse Kampioenskap behaal.

Franse Pro D2-reeks

Burton Francis (losskakel), wat Superrugby vir verskeie SA spanne gespeel het, het 14 punte tot Grenoble se oorwinning van 24-21 oor Montauban in die Franse tweedevlak-beroepsreeks behaal.

Hy het ʼn doelskop en vier strafdoele deur die pale gejaag.

Claude Dry (slot) van Montauban, wat die Sharks-vyftiental in die opstelronde van die Curriebeker verteenwoordig het, het ʼn geelkaart op die lyf geloop.

In dieselfde reeks het Willie du Plessis (losskakel), wat Superrugby vir die Cheetahs gespeel het, ʼn drie vir Bayonne teen Aurillac gedruk.
Bayonne het met 26-22 gewen. Schalk Oelofse (flank) het ʼn drie vir Mont de Marsan in sy nederlaag van 15-33 teen Nevers gedruk. Hy het as slot Superrugby vir die Kings en Curriebekerrugby vir die Suidwestelike Distrikte gespeel.

Italiaanse Super 10-reeks

Gary Visagie (slot), die seun van die Springbok Vleis Visagie, het een van Reggio se drieë in sy sege van 42-33 oor Fiamme Oro Roma in die Italiaanse Super10-reeks gedruk.

Hy het die Pumas op o.21-vlak en Mpumalanga Laeveld se amateurspan verteenwoordig.

Kayle van Zyl (heelagter), wat Curriebekerrugby vir die OP Kings gespeel het, het ʼn strafdoel in San Dona se sege van 51-0 oor Lazio op die telbord geplaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.