Pienaar, Smit en Kolisi praat oor Wêreldbeker-dinge

Francois Pienaar. Argieffoto.

Deur die jare was daar al ’n hele paar goeie Springbokspanne, maar die groepe van 1995, 2007 en 2019 sal altyd vir hul Webb Ellis-heldedade onthou word.

Francois Pienaar, John Smit en Siya Kolisi het van hul Wêreldbeker-herinneringe gedeel en wat dit vir hulle beteken het.

Pienaar was die eerste Springbokkaptein om die belangrikste trofee in wêreldrugby omhoog te hou toe sy span die magtige All Blacks met 15 – 12 in 1995 op Ellispark geklop het.

“Daar was soveel op die spel en die spanning was uniek tot die situasie omdat jy óf die wêreldkampioen sal wees óf nie,” het Pienaar gesê.

“Ek dink die absolute verligting wat mens na die tyd gevoel het, is die grootste blywende herinnering. In ’n Wêreldbeker-eindstryd maak dit nie saak hoe jy dit gedoen het, of wat die telling was nie; jy wil net na die einde van die spel voorloop.”

Volgens Pienaar is die euforie wat jy as speler ervaar iets onbeskryflik wanneer jy op só ’n oomblik na die groot elektroniese telbord kyk.

“Dit is ongelooflik en ek het nooit in my wildste drome gedink dat die Wêreldbeker so ʼn groot invloed op ons land sou hê nie.”

Bryan Habana, Jake White en John Smit ná die 2007-finaal teen Engeland.. Foto: Facebook.

Vir Smit was die 2007-avontuur ’n spanpoging. Die Bokke het Engeland met 15 – 6 in Parys gewen nadat Frans Steyn en Percy Montgomery se skopskoene vir die punte verantwoordelik was.

“Ons het die  enorme verantwoordelikheid gehad om ’n nasie se hoop en drome op ons skouers te dra. En drome word inderdaad bewaarheid,” het Smit in ’n onderhoud net na die wedstryd gesê.

“Dit het nog nie heeltemal ingesink nie, maar ek is trots op elke liewe speler. Daar gaan baie stories wees om te vertel soos ons ouer word, maar niemand kan hierdie oorwinning van die spelers wegneem nie. Hulle is rateltaai en ek dink die hulle land kan trots wees op hulle.”

Op sy beurt het Kolisi ook sy span geloof nadat hulle verlede jaar 32 – 12 met Engeland in Japan afgereken het.

“Ons het baie uitdagings saam as span trotseer en ek is dankbaar dat Suid-Afrika ons ondersteun het.

Suid-Afrika se kaptein, Siya Kolisi, hou die Webb Ellis-beker saam met die Suid-Afrikaanse president, Cyril Ramaphosa, omhoog. (Foto: Christophe Ena, AP)

“Toe die eindfluitjie geblaas het, was ek net dankbaar,” het Kolisi gesê. “In Suid-Afrika is daar soveel probleme, maar om ’n span soos dié te hê – ons kom uit verskillende agtergronde en is deel van verskillende rasse.

“Tog het ons as ’n span saamgekom met één doel voor oë en ons het dit bereik. Ek hoop ons kon dit vir die mense van Suid-Afrika gewys het: Ons kán saamwerk as ons iets wil bereik.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

MakersMark ·

Twee van die kapteine staan uit op die wereldverhoog van rugby, ander een maar so so.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.