Pieperige Drake wil weer vuur blaas

Wallis beklee tans die tiende plek op Wêreldrugby se amptelike punteleer. Foto: Twitter.

Die Rooi Drake blaas deesdae ʼn bra flouerige vuurtjie, maar ’n oudspeler is positief dat die Walliese span hom vóór die Wêreldbekertoernooi in September kan regruk.

Warren Gatland se span beklee tans die tiende plek op Wêreldrugby se amptelike punteleer, terwyl hulle ook nog nie ʼn enkele wedstryd in vanjaar se Sesnasiesreeks kon wen nie.

“Ons vertonings is tot dusver ʼn teleurstelling en dit is veral vir my ʼn bitter pil om te sluk. Dit is die eerste keer dat ek drie Sesnasieswedstryde saam met Wallis verloor het. Daar het inderdaad baie dinge lángs die veld gebeur, maar ek beskou dit nie as ʼn verskoning nie,” het Gatland gesê.

As hulle die naweek se wedstryd teen Italië verloor, sal dit die eerste keer in 20 jaar wees wat hulle die toernooi as die houtlepeldraers afsluit.

Daarbenewens is die spelers ontevrede met die administrateurs oor hul kontrakte en hulle het al gedreig om te staak.

Tussen alles deur moet hulle ook nog vir die Wêreldbeker in Frankryk voorberei; ʼn toernooi wat oor skaars ses maande begin.

Ja, die Drake het nog net vyf wedstryde oor vóór hul openingswedstryd teen Fidji in Bordeaux, maar Neil Jenkins glo dat die huidige rugbywarboel dalk ʼn silwer randjie het.

Wat nie doodmaak nie maak mos sterk, of hoe?

“Ons het nog tot September tyd om onsself reg te ruk en ek glo ons kan dit doen. Ons staan ʼn goeie kans in die Wêreldbeker; mits ons na ʼn hoër rat kan verwissel in die aanloop tot die toernooi,” het die legendariese Walliese losskakel gesê.

Jenkins is deesdae die nasionale span se hulpafrigter en meen die eerste tree van Operasie Regruk begin hierdie naweek teen Italië.

Net soos Wallis het die pizza-en-pasta-spelers ook nog nie ʼn wedstryd in vanjaar se Sesnasiesreeks gewen nie. Hulle lyk egter goed wanneer hulle op die veld is en in Ange Capuozzo het hulle ʼn vindingryke heelagter wat met die heel beste spelers ter wêreld kan saamgesels.

“Ons sal op ons heel beste in Rome moet wees, anders gaan ons tweede viool teen die Italianers speel. Hulle is ʼn baie goeie rugbyspan.”

Warren Gatland. (Foto: Anne-Christine POUJOULAT/AFP)

Intussen is die Rooidraakspan vir Saterdag se stryd aangekondig en Gatland het die snoeiskêr ingelê. Die 59-jarige afrigter het ses veranderinge aangebring aan die span wat hul vorige wedstryd teen Engeland in Cardiff verloor het.

Louis Rees-Zammit skuif onder meer na die plaasvervangersbank met Rio Dyer wat die no .11-trui sal dra. Terselfdertyd is Alun Wyn Jones nie eens in die wedstrydgroep ingesluit nie.

Die wedstryd begin Saterdag om 16:15 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

Wallis: Liam Williams (heelagter), Josh Adams (regtervleuel), Mason Grady (buitesenter), Joe Hawkins (binnesenter), Rio Dyer (linkervleuel), Owen Williams (losskakel), Rhys Webb (skrumskakel), Taulupe Faletau (agtsteman), Justin Tipuric (flank), Jac Morgan (flank), Dafydd Jenkins (slot), Adam Beard (slot), Tomas Francis (stut), Ken Owens (kaptein en haker) en Wyn Jones (stut). Plaasvervangers: Scott Baldwin, Gareth Thomas, Dillon Lewis, Rhys Davies, Tommy Reffell, Tomos Williams, George North en Louis Reez-Zammit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.