Piepklein Guam laat magtige China tuimel

G’n wedder gaan sommer sy geld op die piepklein Guam sit as dit by ʼn konfrontasie met die magtige China kom nie.

Het China dan nie oor die 8 500 keer soveel mense as Guam nie? Is sy grondgebied nie oor die 17 000 keer so groot nie?

Op die rugbyveld is dit egter ʼn ander storie.

Die eiland Guam, ʼn Amerikaanse oningelyfde gebied in die Westelike Stille Oseaan, het pas in die Belapan-stadion, Bandar Seri Bagawan, Broenei, Afdeling III Oos van die Asiatiese Rugbykampioenskap gewen deur China met 52-12 af te ransel.

Die Guamese vleuel Chris Sgro het vier drieë gedruk. Gerard Aguan (heelagter) het 15 punte met ses doelskoppe en ʼn strafdoel op die telbord geplaas.

Guam het vroeër die tuisspan, Broenei, met 66-12 verniel.

Aguon het toe 17 punte met ʼn drie en ses doelskoppe aangeteken.

Guam word deur Anthony Penn, ʼn gewese Maori All Black, afgerig.

Die helfte van die spanlede het by die toernooi hul buiging in internasionale rugby gemaak.

China het sy wedstryd teen Broenei met 39-18 gewen om tweede in die reeks te eindig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.