Pieter Hendriks: Binne sekondes van held tot skurk

Pieter Hendriks – is hy “opgeoffer”?

Dit bly een van die tergendste vrae in Suid-Afrikaanse rugby: Is die Springbokvleuel Pieter Hendriks in 1995 opgeoffer om plek vir Chester Williams in die laaste drie weke van die Wêreldbeker-toernooi te maak?

Daar is steeds baie mense wat so dink.

Die groot vraag is hoekom die destydse Suid-Afrikaanse Rugbyvoetbalunie (Sarfu) nie vir Hendriks wou ondersteun nie nadat hy geskors is en dalk wou appelleer.

Ja, daar was bewyse van vuil spel, maar sê nou maar dit was enige ander speler? Sou hulle hom ook vir die wolwe gegooi het?

Kom ons draai die horlosie terug na 3 Junie 1995, toe die Springbokke in die ou Boet Erasmus-stadion in Port Elizabeth teen Kanada in hul laaste groepwedstryd gespeel het.

Die Springbokke was so te sê reeds deur na die kwarteindronde nadat hulle die Wallabies (27-18)  en Roemenië (21-8)  geklop het.

Hendriks was, ironies genoeg, een van die Bokhelde toe hy in die openingswedstryd teen die Wallabies om David Campese gehardloop het om die Bokke op die wenpad te plaas.

Maar teen Kanada het sy droom in ʼn nagmerrie verander.

Die Kanadese het nog ʼn buitekans gestaan as hulle die Bokke sou klop nadat hulle Roemenië (34-3) afgeransel het maar teen die Wallabies (11-27) verloor het.

Toe die wedstryd teen Kanada ná ʼn kragonderbreking sowat 45 minute laat begin het, was dit ʼn kruitvat, want dit was van die begin af duidelik dat die Kanadese nie die ander wang sou draai nie en die Bokke het ook nie teruggestaan nie.

Die Bokke was met 17-0 voor toe humeure oorgeborrel het nadat Hendriks die Kanadese regtervleuel Winston Stanley oor die kantlyn gestamp het en albei teen ʼn advertensiebord beland het. Niks ernstig nie, maar toe storm die Kanadese heelagter Scott Stewart in en slaan Hendriks teen die agterkop.

Die gort was gaar en spelers van albei spanne het geslaan, gestamp, geskop en geruk en pluk voordat die orde herstel is.

Die Springbokhaker James Dalton en twee Kanadese, Gareth Rees en Rod Snow, is deur die skeidsregter, Dave McHugh, met rooikaarte afgestuur.

Die Bokke het met 20-0 gewen en ná die wedstryd is Hendriks en Stewart vir hul aandeel in die groepsgeveg uitgewys.

Maar wat van die res? Gaan kyk maar na daardie video.

Dalton is vir 30 dae geskors en hy het geappelleer. Die appèl is van die hand gewys.

Hendriks is vir 90 dae geskors nadat die rugbybase die video bestudeer het. Sy toernooi was daarmee verby en Williams, wat in die WB-groep sou wees, maar ’n dyspierbesering opgedoen het en deur Hendriks vervang is, is weer nader getrek.

Williams, wat die Swart Pêrel genoem is, was die gesig van die toernooi. Hy was byna op elke reklamebord en advertensie en dit was sekerlik soos manna uit die hemel vir die rugbybase toe hy na die veld kon terugkeer.

Maar die groot ironie?

Op die ikoniese foto van Joel Stransky wat die wenskepdoel in bykomende tyd van die eindstryd teen die All Blacks deur die pale jaag, verskyn daar net 14 Springbokke op die veld, want presies op daardie oomblik het Williams verberg agter een van die regoppale gestaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Andre ·

Almal weet dit maar wat kan jy doen? Dit is moes swart bo wit met ons regering.

Thinus ·

Ja so word die politiek in SA ook gespeel op rygby reels. As die oortreder (vuis hou, stywe arm loop, hoogvat ens.) uitgevang word, kry hy miskien ‘n strafskop teen hom. Dalkies geel kaart, behalwe as jy bok is want dan is jy gepos!
Sou sy slagoffer dalk terug slaan of stamp, dan word die strafskop omgedraai en die slagoffer kry sommer rooikaart en oortreder ‘n groot glimlag. En dit gebeur veral as jy ‘n bok is, Tuis en oorsee, as jy ‘n bok is, is jy in die sop!
So word die WM in SA elke dag behandel.

Valerie ·

Baie oud en vrot koeitjies uit die dood. Wat is die skrywer se eintlike punt? Het hy een? Dink hy SA kon teen die All Blacks verloor het as Pieter Hendriks gespeel het? Behalwe dit, weet ek nie hoekom die skrywer nou krap waar niemand nog aan gekrap het nie. Hy moet liewer uitvind hoekom die All Blacks teen ‘ n middelmatige/swak/oordrewe Springbokspannetjie verloor het. Sonder grappies, die AB’s moes 56-12 gwewen het. Daar, gaan stel ware ondersoek in en laat ons weet.

Steyn ·

Ag nee wat, dit nou nie eers die lees nodig gewees nie of wil iemand voorbrand maak om hom op supersport ateljee te kry in Naas of Nick se plek?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.