Pieter-Steph du Toit is die Bokke se nommer een

Pieter-Steph du Toit – uitblinker (Foto: sarugby.co.za)

Wie is die huidige Springbokspan se beste speler? Trouens, wie is die waardevolste speler van al vier spanne in die Rugbykampioenskap?

Vergeet van Brodie Retallick, Beauden Barrett of Israel Folau, dis ongetwyfeld die Springbokflank Pieter-Steph du Toit.

Dit bly ʼn berekende waagstuk om spelers buite hul posisies te kies, want soms kan dit boemerang, soos destyds toe Frik du Preez flank toe geskuif is, of toe die balvaardige agtsteman Gerrie Sonnekus skrumskakel moes speel.

Du Toit troon kop en skouers in die Rugbykampioenskap uit nadat hy ook een van die groot uitblinkers in die reeks in Junie teen Engeland was. Hy het nie net die meeste suksesvolle duikslae (78) tot dusver in die Rugbykampioenskap uitgevoer nie – baie meer as dié van Marcos Kremer van Argentinië en Franco Mostert (albei 58) en die All Blacks-slot Sam Whitelock en Siya Kolisi (albei 55) – maar sy ander vaardighede as baldraer, lynstaanspringer en skakel tussen voor-en agterspeler is van hoogstaande gehalte.

Dok Danie Craven het altyd gesê dis in ʼn speler se gene om ʼn Springbok te word. Du Toit se oupa Pieter Stephanus (Piet Spiere) du Toit was die Springbokke se vaskopstut in 14 toetse tussen 1958 en 1961 en Pieter-Steph het sy gene geërf.

Maar sy oorgang van slot na flank was nie altyd naatloos nie. Hy het in 19 van sy 41 toetswedstryde flank gespeel (vyf daarvan as plaasvervanger) nadat hy voorheen – nie baie suksesvol nie – ook deur Heyneke Meyer en Allister Coetzee as flank gekies is.

Dalk pas die Bokke se “nuwe” strategie om beter sónder die bal as mét die bal te speel, hom soos ʼn handskoen. Dalk wil hy net duik, duik en duik.

Suid-Afrikaners het in 1974 in ʼn reeks met ʼn geharde slot op flank te doen gekry toe Roger Uttley in al vier toetse vir die Britse Leeus flank gespeel het.

Ja, die Franse het dit gereeld gedoen met Benoît Dauga en Walter Spanghero, maar nie die Leeus nie.

Uttley was in sy eerste agt toetswedstryde een van Engeland se slotte, maar toe skuif die Leeus se afrigter, Syd Millar, en sy toerkeurders Uttley flank toe.

Die Suid-Afrikaanse ondersteuners het aan die begin in hul moue gelag, want daar is gesê dat Uttley nie op die harde velde sou byhou nie.

Hy was egter een van die onbesonge helde van die reeks, wat die Leeus met 3-0 gewen het. Hy was vurig, kliphard, vinnig genoeg, en sy vermoë in die lynstane het aan die Leeus ʼn bykomende keuse besorg.

Net soos Pieter-Steph du Toit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

LHS ·

Eenvoudig, Kolisi moet plek maak vir n behoorlike grondspeler flank.

ac ·

Wat is jou probleem met daardie speler,hy is ‘n springbokkaptein en klaar.

Adriaan ·

Wat my bekommer is hoekom moet die man so baie lak werk doen. Die span voer naweek in naweek uit die meeste duikslae uit.Hoekom? Mens speel tog rugby met die bal. As hulle kan wen met sulke min bal besit, maggies sal hulle seker wêreld kampioene wees as hulle bietjie met die bal speel.

Smirre ·

Probleem met Kholisi is hy hy nie die beste speler huidiglik beskikbaar in sy posisie nie asook nie die speler wat kaptein moet wees nie. Hy is in die span en kaptein maar deur kwota ontwerp en nie meriete nie.

Sam ·

Faf moet sy skopwerk los en eerder balbesit behou , want die All Blacks is meesters op teenaanvalle.Hy maak goed skoon, maar skop te veel en dan is die meeste daarvan ook nie baie suksesvol nie.

Die waarheid ·

Die waarheid is dat Kolisi net n BBEEE speler is . Kyk hoeveel foute het hy gemaak en niemand wil dit eers uitwys nie. Niemand wil hom kritiseer nie, want hy is mos ons eerste swart kaptein. Nee wat. Se dit soos dit is en hou op om naief te wees. Daar is beter spelers as hy en beter opsies vir kapteinskap. Aan die ander kant is Pieter-Steph briljant. Hou maar dop, want binnekort pak hy ook sy tassies vir n oorseese span. Daar word hulle uitstekend betaal en kry respek ongeaf vel kleur.

HP ·

Ja, Pieter – Steph is wereldklas en boonop nederig. Ek kan nie wag vir more wanneer hy en nog `n yster, Malcolm Marx, die All Blacks se lewens moeilik gaan maak nie. Lekker Bokke!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.