Pieter-Steph kry nóg ’n toekenning

Pieter-Steph du Toit. Foto: ANA.

As jy die betekenis van die woord “uitblinker” in die HAT soek, sal jy waarskynlik ’n foto van Pieter-Steph du Toit in plaas van ’n woordelikse beskrywing sien.

Die Springbok-vuurvreter is Dinsdagaand as MyPlayers se speler van die jaar aangewys. Hy is ook ná die Wêreldbekertoernooi in Japan as Wêreldrugby se speler van die jaar aangewys.

Du Toit is gisteraand ook as voorspeler en verdediger van die jaar aangewys.

Die buksie-skrumskakel, Herschel Jantjies, is as die beste speler van die plaasvervangersbank aangewys, terwyl hy ook die toekenning ontvang het vir die speler wat die meeste vordering getoon het.

Dan is die vlugvoetige Cheslin Kolbe die agterspeler van die jaar en Rosko Specman die ondersteuners se gunsteling.

Suid-Afrika se professionele rugbyspelers het vir die wenners in elke kategorie gestem, met net Specman se toekenning wat deur rugby-ondersteuners bepaal is.

Die spelers het ook R70 000 van hul gesamentlike inkomste aan die Chris Burger Petro Jackson-spelersfonds geskenk. Dié fonds ondersteun spelers wat ernstige nek- en rugbeserings op die veld opgedoen het.

Die aand se groot wenners:

  • Verdediger van die jaar: Pieter-Steph du Toit.
  • Voorspeler van die jaar: Pieter-Steph du Toit.
  • Agterspeler van die jaar: Cheslin Kolbe.
  • Beste plaasvervanger: Herschel Jantjies.
  • Beste vordering: Herschel Jantjies.
  • Ondersteuners se keuse: Rosko Specman.
  • Spelers se speler van die jaar: Pieter-Steph du Toit.
  • Vorige wenners in die spelers se speler van die jaar-kategorie is Siya Kolisi en Malcolm Marx.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

m.d.r. ·

Geluk aan Pieter Steph–dit was welverdiend.
Tog wonder ek tussen al die lof deur of niemand die spel van Franco Mostert wou prys nie.
Behalwe die laaste twee wedstyde was Duane Vermeulen, Franco Mostert en Pieter Steph eintlik elke wedstryd van begin tot einde op die veld. Behalwe vir een keer, is Vermeulen nooit vervang vandie bank af nie.
Eintlik moet mens erken dat hierdie drie die “donkiewerk” gedoen het in die span.
Verdediging. aanval , bal beskerm was hulle altyd besig.
En na die euforia van die wereldbeker, is Mostert en Vermeulen weer ander land toe–
tog so jammer. Hulle kon soveel aan die opkomende geslag geleer het.

Swartwolf ·

Fantasties as die regte ouens erken word. Pieter Steph ‘n reus in die bok pak. Stem saam oor Mosterd hy verdien meer erkenning. Die ouens gaan nie rusbankie toe as die game hard raak nie, hulle maak hom nog harder.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.