Pivac: Bokke is Wallis se ‘grootste uitdaging’

Volgens Wayne Pivac is die Springbokke se voorspelerspel ’n groot gevaar. Hier is Malcolm Marx in aksie. Foto: Charly Triballeau/AFP.

Volgens Wallis se Wayne Pivac is dit een van wêreldrugby se grootste uitdagings om teen die Springbokke in die dun lug van Pretoria en Bloemfontein te speel.

Voeg daarby dat Wallis negende op die internasionale ranglys is en dat hulle onlangs sleg teen Italië in die Sesnasiesreeks verloor het; en die Rooi Drake se vermoë om vuur teen die Suid-Afrikaners te blaas lyk skielik nie so belowend nie.

Boonop kon die besoekers in tien probeerslae nog nie ’n enkele wedstryd teen die Springbokke in Suid-Afrika wen nie.

“Vanuit ’n toetsrugby-oogpunt soek jy as ’n speler of ’n afrigter die grootste uitdaging waarteen jy jouself kan meet. Vir ons is dit ’n reuse-uitdaging om teen die wêreldkampioenspan in hul agterplaas te speel; dit sal ook die eerste keer wees dat die Springbokke voor hul tuisskare in aksie sal wees sedert hulle die Webb Ellis-trofee in 2019 gewen het,” het Pivac gesê.

Die Wallis-afrigter het veral die Springbokke se voorspeler-spel uitgesonder.

“Wat skrumwerk betref het Suid-Afrika op ’n gereelde grondslag gewys dat hulle die beste ter wêreld is. Terselfdertyd is hul lynstane goed en hul voorspelers staan vir niemand terug nie; hulle is nie verniet die wêreldkampioenspan nie.”

Op sy beurt het Jacques Nienaber al vantevore gesê dat die Walliese aanslag nie onderskat moet word nie.

“As jy na die onlangse geskiedenis van ons wedstryde teen hulle kyk, glo ek dat die komende reeks ’n taai storie kan wees. Ons kon hulle byvoorbeeld verlede jaar vir die eerste keer in agt jaar in Wallis klop,” het Suid-Afrikaanse afrigter gesê.

Die Springbokke het daardie wedstryd in Cardiff met 23–18 gewen.

Vóór dit het Suid-Afrika die Wêreldbeker-halfeindstryd met drie punte gewen, terwyl Wallis in 2018 ’n toets in Cardiff met 20–11 beklink het.

“Wallis speel altyd fisieke rugby – hulle is sterk voorlangs, goed afgerig en takties slim. Hulle het ook die vorige keer dat ons teen hulle gespeel het, goed geskop en ons was in ons helfte van die veld vasgepen.”

Die eerste toets in die reeks van drie wedstryde word op 2 Julie op Loftus Versfeld gespeel.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

piet ·

Sal gevaarlik wees om die ouens af te skryf, hulle is nie ‘n slegte span nie. Kies net genoeg Stormers en ons sal oukei wees. Te veel Sharks in die huidige Bok-span.

absoluut ·

Kies net die beste spelers en klaar, ongeag provinsie of kleur, dit is die basics van n wenspan ontwikkel

piet ·

Ek is bekommerd dat Nienaber en Rassie te lank aan sekere spelers klou. Dis ‘n ou kwaal van Bok-rugby. Kyk bietjie die All Blacks, daar moet jy perform en op vorm wees anders word jy nie gekies nie. En hulle bring baie gou ‘n nuwe ster in. ‘n Goeie voorbeeld is ons agsteman posisie, Vermeulen is waarskynlik steeds goedgenoeg om te speel maar ‘n speler soos Roos is nou op daai standaard indien nie tans beter nie. Speel hom…

MakersMark ·

Jy maak seker ‘n grap. Keurders se werk is om die beste spelers en kombinasies te kies niks met provinsionalisme uit te waai nie.

N ·

Soos hulle die laaste tyd speel moet hulle eers vir Georgia en Uruguay wen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.