Plaasvervangers vir Blitse se beseerde kaptein en Ruhan Nel

Philip Snyman – keer terug na SA ná besering (Foto: lequipe fr)

Die Blitsbokke se kaptein, Philip Snyman, en die ervare sterk senter Ruhan Nel is albei op pad terug Suid-Afrika toe nadat hulle in die afgelope sewesreeks van Wêreldrugby beseer is.

Dit is ʼn groot terugslag vir die Blitse wat vir die naweek se toernooi in Nieu-Seeland moet hergroepeer ná hulle 0-29-loesing Sondag teen Australië.

Kyle Brown, Snyman se voorloper as kaptein, neem die kapteinskap oor.

Snyman, wat in sy 50ste toernooi gespeel het, het sy dyspier beseer en Nel sy knie.

Hulle plaasvervangers is twee spelers van SA Rugby se sewesakademie op Stellenbosch, Zain Davids en Muller du Plessis. Hulle was Maandag reeds op pad na Hamilton toe, waar die Nieu-Seelandse toernooi voortaan in plaas van in Wellington sal plaasvind.

Davids vervang vir Snyman terwyl Muller du Plessis as dertiende speler die reserwe is. Hy kom in die plek van Sikhumbuzo Notshe wat in Sydney as reserwe diens gedoen het toe Nel beseer is.

Davids het verlede jaar in ses toernooie gespeel en Du Plessis het vanjaar die Sewes se akademiespan verteenwoordig. Hy het in 2016 en ’17 vir die SA Skolespan gespeel en ʼn blink sewestoekoms word vir hom voorspel.

♦  Die Blitsbokke speel in Saterdag se eerste ronde teen twee van sy groepteenstanders in Sydney, Engeland en Papoea-Nieu-Guinee, en ook teen Rusland.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.