Plattelandse spelersomset bly `n turksvy

harrismithembleemDie hoë omset van spelers bly `n voortdurende turksvy vir plattelandse klubs.

Marius Coetzee, die voorsitter van Harrismith wat vanjaar die Oos-Vrystaat se Stoney Steenkamptrofee gewen het, sê daar is baie druk op spanne wat die ligas wen, en op die platteland kan `n klub nie regtig staatmaak op sy span van die vorige seisoen nie.

“Ons begin dus maar weer met nuwe spelers wat ontwikkel moet word, en die nuus dat [Bethlehem-] Oudskoliere weer na die Noordliga skuif, maak nie dinge noodwendig makliker vir almal nie.

“Die mededinging [in die Oos-Vrystaat] is geweldig sterk en daar is min tussen die spanne te kies. Oudskoliere sal sekerlik weer probeer om die beter spelers uit die ander klubs te lok om diepte in hul eie klub te skep.

“[Dit sal] nie noodwendig `n slegte ding vir die Oos-Vrystaatse amateurspan wees nie, maar kan moontlik `n baie negatiewe effek op die ander klubs hê as hulle nie spelers het nie.”

Coetzee sê voorbereiding vir aanstaande seisoen het reeds begin met `n paar spelers “wat in die gimnasium rondhang”.  Die amptelike oefeninge begin Dinsdag 10 Januarie.

Uitblinkers

Sammy Redelinghuys (flank) is by Harrismith se prysuitdeling as die klubspeler van die jaar bekroon en Dricus Greeff (senter) as die waardevolste speler.

Jaco Coetzee (skrumskakel) was die beste agterspeler en Kobus Grabe (agsteman) die beste voorspeler.

Thuso Lungwana (slot) het die beste gevorder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.