Plettervat-nadraai: Farrell-slagoffer kry beter kontrak

Charlie Atkinson. Foto: Lindsey Parnaby/AFP.

Die 19-jarige Charlie Atkinson, die speler wat verlede jaar deur Owen Farrell op ’n uiters gevaarlike wyse platgetrek is, se kontrak is by Wasps hernieu terwyl hy ook tot die klub se eerste span bevorder is.

Volgens Wasps se Lee Blackett sien hulle daarna uit om saam met Atkinson te werk.

“Ons is baie bly dat Charlie besluit het om sy kontrak met ons te verleng en hy het ons reeds baie beïndruk. Hy het ’n uitstekende jaar van senior rugby agter die blad en hy het die begeerte om daagliks te verbeter,” het Blackett gesê.

Atkinson, wat ook al vir Engeland se o.18- en o.20-spanne uitgedraf het, sê hy is opgewonde om sy amptelike eerstespanhoofstuk by Wasps te begin.

“Ek het hierdie seisoen baie geniet en kan nie wag om weer saam met die talentvolle spelers en afrigters te werk nie.”

Farrell, die Engeland-kaptein wat vir Saracens speel, het destyds vir die jong Atkinson met ’n duikslag platgetrek wat meer gepas in die rofstoeiwêreld as op ’n rugbyveld gelyk het.

Sir Clive Woodward, wat die Webb Ellis-trofee saam met Engeland in 2003 omhoog gehou het, voel dat Farrell se oortreding dalk uit frustrasie met Engeland se sukkelvertoning in die eindstryd van die 2019-Wêreldbeker-rugbytoernooi was.

“Dit het vir my soos ’n têkkel gelyk wat pleinweg deur frustrasie gemotiveer was. Dit was ’n moeilike en uitdagende seisoen vir Farrell,” het Woodward destyds gesê.

Joernaliste en rugbyliefhebbers het almal vir Farrell as ’n “gewoontemisdadiger” uitgekryt, maar hy is uiteindelik net vir ’n paar wedstryde geskors.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Tubac ·

Dit is vir my altyd interessant om te sien hoe stories ingekleur word om sensasie te soek!

Andre ·

Ek het gedink Butch James was ‘n groot sondaar met hoe vatte, maar Owen Farrell vat die kersie op die koek. Volgens my menig moet hy permanent geskors word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.