Pocock uit Bokke-toets: Is dit die All Blacks se skuld?

David Pocock – speel nie teen die Bokke nie. (Foto: youtube)

Die debat of die All Blacks die reëls buig (en daarmee wegkom) het opnuut opgevlam nadat die Wallabies se groot baljagter David Pocock vanweë ʼn nekbesering nie sy fiksheid kon bewys vir Saterdag se toetswedstryd in die Rugbykampioenskap in Brisbane teen die Springbokke nie.

Pocock is twee weke gelede deur die All Blacks in die toetswedstryd in Auckland geboelie, maar die skeidsregter, Wayne Barnes van Engeland, het nie teen hulle opgetree nie. Ook nie die twee assistent-skeidsregters of die televisieskeidsregter nie.

Pocock het ʼn hele paar keer behandeling ontvang vir nekbeserings (nekrolle), maar die All Blacks is nie daarvoor gestraf nie.

Is dit net suur druiwe, of buig die All Blacks die reëls en kom hulle daarmee weg?

Sommige ontleders gaan selfs sover om te sê hulle is skelm, ander is versigtiger.

Dink maar net hoe die Crusaders vir Malcolm Marx (Lions) in die eindstryd van die Superrugby-reeks geboelie het, net soos in Pocock se geval. Marx was nie ʼn skaduwee van die speler wat soveel verwoesting gesaai het nie.

Marx kon sedertdien nog nie weer dieselfde gehalte spel lewer nie. Is hy nie dalk toe ook beseer nie?

Pocock word deur Pete Samu vervang vir die kragmeting met die Springbokke ‒ en kyk ons objektief daarna, het die aandele van die Bokke nou die hoogte ingeskiet.

Die Wallabies se planne is deurmekaar gekrap. Hulle is hul groot angel kwyt en die Bokke sal in die los behoorlik saamgesels … en selfs oorheers.

Die Bokke het juis nie ʼn baljagter gekies nie (Marx en Francois Louw is albei op die bank), maar nou maak dit nie meer saak nie. Michael Hooper sal nou ʼn alleenstryd voer, want Lukhan Tui en Samu is nie van dieselfde gehalte as Pocock nie.

Ja, een swaeltjie maak nie ʼn somer nie, maar dink tog maar terug aan die Wêreldbeker-kwarteindstryd tussen die Bokke en Wallabies in 2011, toe Pocock (en die skeidsregter Bryce Lawrence) amok gemaak het.

Die spook van Brisbane (die Springbokke kon sedert 1992 net een van 11 toetse in dié stad wen) loop skielik nie meer nie, en die Bokke het nou een van hul beste kanse om die Aussies se tjank af te trap … omdat die All Blacks Pocock se doppie geklink het.

Spanne ‒

Australië
Israel Folau, Dane Haylett-Petty, Reece Hodge, Matt Toomua, Marika Koroibete, Kurtley Beale, Will Genia, Pete Samu, Michael Hooper (kaptein), Lukhan Tui, Adam Coleman, Rory Arnold, Allan Alaalatoa, Tatafu Polota-Nau, Scott Sio. Bank: Folau Fainga’a, Tom Robertson, Taniela Tupou, Izack Rodda, Ned Hanigan, Joe Powell, Bernard Foley, Jack Maddocks.

Suid-Afrika
Willie le Roux, Makazole Mapimpi, Jesse Kriel, Damian de Allende, Aphiwe Dyantyi, Elton Jantjies, Faf de Klerk, Warren Whiteley, Pieter-Steph du Toit, Siya Kolisi (kaptein), Franco Mostert, Eben Etzebeth, Frans Malherbe, Bongo Mbonambi, Steven Kitshoff. Bank: Malcolm Marx, Beast Mtawarira, Wilco Louw, RG Snyman, Francois Louw, Embrose Papier, Handré Pollard, Cheslin Kolbe.

Skeidsregter: Glen Jackson (Nieu-Seeland).

Assistent-skeidsregters: John Lacey (Ierland), Paul Williams (NS).

TV-skeidsregter: Glenn Newman (NS).

Afskop: 12:00.

Voorspelling: Springbokke met 8 punte.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Robert ·

Die AB’s het nog altyd die reels gebuig en daarmee weggekom, hulle is mos die gode van wêreld rugby. Ek wonder hoeveel skeidsregters sal meer strafskoppe teen die AB’s gee as hulle nie geweet die AB’s speel nie.

Rupert Ashford ·

Pocock se nek was al voor die All Black toets nie lekker nie, maar hulle het dit duidelik vererger. Daar sal teen hulle opgetree moet word. Ons sal maar moet sien of die Proteas kan wen.

Frans C ·

Die Lions se pak was nooit in die wedstryd nie.Onthou dieselfde vyf van die Crusaders
speel netso vir die All Blacks.Van die Lions is net omtrent Marx seker van ‘n plek,al sit hy Saterdag op die bank teen die Wallabies.

Die dag wat Suid Afrika ‘n vyf van enige provinsie kan neem vir ‘n toets is net ‘n droom.

Frans C ·

Die Lions se pak was nooit in die wedstryd nie.Onthou dieselfde vyf van die Crusaders
speel netso vir die All Blacks.Van die Lions is net omtrent Marx seker van ‘n plek,al sit hy Saterdag op die bank teen die Wallabies.

Die dag wat Suid Afrika ‘n vyf van enige provinsie kan neem vir ‘n toets is net ‘n droom.

Willie ·

Ek dink ek is so oor rugby… dit staan my eindelik nie meer aan nie… op alle vlakke is SA se sport n teleurstelling… Ons kan die onwusselturigste rugby speel…

Karl ·

Ag asseblief, die Kiwis speel goeie rugby en weet presies tot waar hulle kan gaan, goed beplan. Suur druiwe omdat julle nie kan kompitisie wees vir ons nie.

Zack ·

Stem saam Karl. Lyk my die manne wat so kla oor die AB wat reels buig moet maar eerder ophou rugby kyk en die reelboek begin lees. Die AB’s ken die reels dis waarom hulle dit so goed toepas. Die ou Springbokke het ‘n gebrek aan vaardigheid dis waarom hulle altyd sal kla as die woord ALL Blacks gebruik word. Hou op kla oor die skeidsregters en AB spelers, en miskien dan sal die springbokke beter begin waar. Dis al ‘n gewoonte om oor die skeidsregters en All Blacks te begin kla nog voor die game begin het, Sies man.

Ag so ne! ·

Miskien so maar verduidelik vir my dan hoekom die all blacks in hul eerste wedstryd teen die wallabies n spear tackle uitgevoer het Naholo kiwi speler op die Wallaby heelagter Folou en letterlik net n strafskop ontvang het deur patetiese Jaco Peyper daai dag terwyl enige ander span n n geel en selfs n rooi kaart sou ontvang het? Nie alewige dubbel standaarde waar die All blacks alewig voor getrek word nie??? Gaan kyk julsef en bewys my verkeerd asb ek wag……..

corne ·

Ek is bly as julle so voorspel dat springbokke met 8 punte. Ek weet darm nie gesien hoe mooi die springbokke self die basiese goed verkeerd doen en balbesig weggee en uiter swak speel weet ek nie kom ons kyk maar en die AB wel hoe se hulle hoogste bomme kry die meeste wind maar ek voel ook dat hulle gereeld reels buig om by hulle te pas

Jonathan ·

SUURDRUIWE JULLE ALMAL

Ruk terug se almal die ALL BLACKS speel brilliant rugby nou kom julle met die …
Julle is n joke net soos SA SPORT

Henry ·

Terugslag vir die Ossies met Pocock wat nie kan speel nie. Hy is werklik ‘n agtermekaar baljagter.

Zack ·

Die ou flou Springbokke moet eerder bly wees dat Pocock uit is. Hier kom nou ‘n verrassing vir Rassie en ja ek weet was sy woorde gaan wees. ” Ons eksperimenteer net “

LHS ·

Omdat Beast uit is moet Marx geoffer word om die kwota getalle te laat klop, wat n absolute grap. Grens baie na aan krimineel vir my.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.