Poemas breek die ys

Foto: rugbydump.com

Foto: rugbydump.com

Die ys is, baie voorspelbaar, vir Argentinië gebreek. Die Poemas het Sondagoggend (SA tyd) sy eerste oorwinning in 18 probeerslae in die Rugbykampioenskap behaal toe hy die Wallabies in Mendoza 21-17 geklop het.

Dit was, soos met die Springbokke die geval was, `n voorbeeld van `n span wat eenvoudig wóú wen.

Toe die Wallabies 14-0 voor was, sou nie eers die grootste Poema-ondersteuner geld op sy span wou waag nie, maar die Poemas se durf en `n toeskouer het sake vir hulle gered.

Die toeskouer het 10 minute voor die einde van die wedstryd tussenbeide getree toe sy span 18-17 voor was. Bernard Foley van die Wallabies het `n verspot-maklike strafskop teen die regoppaal vasgeskop nadat `n toeskouer `n spieël in sy oë geflits het.

Toe het die skeidsregter, Nigel Owen wat verlede week indruk gemaak het met sy hantering van die wedstryd op Nuweland tussen die Bokke en die Wallabies, die Australiese kaptein Michael Hooper boonop met `n geelkaart afgestuur vir `n gevaarlik duikslag op die Poemas se losskakel, Nicolás Sánchez. Dié het die strafskop oorgeskop en daarmee vir die Poemas ligte Sanzar-geskiedenis met die deurbraak help maak.

“Dit het nog nie ingesink nie. Dit was drie moeilike jare vir ons, maar ons het nooit moed opgegee nie,” het die Poemas se verheugde kaptein, Agustin Creevy, ná die wedstryd gesê.

Argentinië kon laas in 1997 teen die Wallabies wen en het nou net vyf oorwinnings in 23 kragmetings teen die Australiërs behaal.

Albei spanne het twee drieë gedruk. Die rustydtelling was 14-8 in die guns van Australië, wat in die tweede helfte net `n enkele strafdoel bygevoeg het.

Punte:

Argentinië (8) 21: Drieë: Juan José Imhoff, Leonardo Senatore. Doelskop: Nicolás Sánchez Strafdoele: Sánchez 3.
Australië (14) 17:  Drieë: Scott Higginbotham, Tevita Kuridrani.  Doelskoppe:  Bernard Foley. Strafdoele: Foley 2.

Spanne:

Argentinië: 15 Joaquín Tuculet, 14 Juan Imhoff, 13 Horacio Agulla, 12 Juan Martín Hernández, 11 Lucas González Amorosino, 10 Nicolás Sánchez, 9 Martín Landajo, 8 Leonardo Senatore, 7 Benjamín Macome, 6 Rodrigo Báez, 5 Tomás Lavanini, 4 Mariano Galarza, 3 Nahuel Tetaz Chaparro, 2 Agustín Creevy (kaptein), 1 Marcos Ayerza.
Bank: 16 Matías Cortese, 17 Bruno Postiglioni, 18 Ramiro Herrera, 19 Matías Alemanno, 20 Javier Ortega Desio, 21 Tomás Cubelli, 22 Marcelo Bosch, 23 Jerónimo De la Fuente.

Australië: 15 Israel Folau, 14 Adam Ashley-Cooper, 13 Tevita Kuridrani, 12 Matt Toomua, 11 Joe Tomane, 10 Bernard Foley, 9 Nick Phipps, 8 Scott Higginbotham, 7 Michael Hooper (kaptein), 6 Scott Fardy, 5 James Horwill, 4 Sam Carter, 3 Sekope Kepu, 2 Saia Fainga’a, 1 James Slipper.
Bank: 16 Josh Mann-Rea, 17 Benn Robinson, 18 Ben Alexander, 19 Will Skelton, 20 Jake Schatz, 21 Matt Hodgson, 22 Nic White, 23 Rob Horne.

Skeidsregter: Nigel Owen

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.