Poemas breek óók eie reël, kies oorsese kragman

Mario Ledesma – kry sy sin om kragman te kies. (Foto youtube.com)

Die All Blacks se diepte maak dit onnodig om sulke voorskrifte te maak, maar hul drie vennote in Sanzaar se Rugbykampioenskap het nou almal hul selfgeskrewe spankiesreëls verbreek.

Soos Suid-Afrika die besluit verontagsaam om net oorsese spelers te kies wat al 30 of meer toetse gespeel het en Australië se herroepte “reël” om net spelers te kies wat in die Superrugby-reeks speel, het die Poemas ook nou die net wyer gespan en toestemming gevra om oorsese spelers te kies.

Die Argentynse afrigter, Mario Ledesma, se versoek om die sterk vaskop uit Europa in sy groep in te sluit, is deur die Argentynse rugbyunie goedgekeur ‒ en Saracens se vaskop Juan Figallo, wat in 2015 in die Wêreldbeker-toernooi laas vir die Poemas gespeel het, is ingesluit in die span vir Saterdag se kragmeting met die Bokke in die Rugbykampioenskap in Durban.

Figallo, saam met die haker en kaptein Augustin Creevy en die loskop Nahuel Tetaz Chaparro, sal die Bokke se voorry deeglik toets.

Die vleuel Bautista Delguy en die senter Bautista Ezcurra speel die eerste keer in die Rugbykampioenskap, maar die res van die Poemas se span is ervare, ken mekaar en is ʼn gedugte eenheid.

Ledesma maak daar geen geheim van dat die skrum en goeie verdediging sy prioriteite is om Argentynse rugby om te draai ná net twee oorwinnings in hul laaste 17 wedstryde nie.

Saterdag sal sy span moet wys dat hy vroeg reeds op die regte pad is.

Argentinië – 

15 Emiliano Boffelli, 14 Bautista Delguy, 13 Matías Moroni, 12 Bautista Ezcurra, 11 Ramiro Moyano, 10 Nicolás Sanchez, 9 Gonzalo Bertanou, 8 Javier Ortego Desio, 7 Marcos Kremer, 6 Pablo Matera, 5 Matías Alemanno, 4 Guido Petti, 3 Juan Figallo, 2 Augustin Creevy (kaptein), 1 Nahuel Tetaz Chaparro. Bank: 16 Diego Fortuny, 17 Santiago Garcia Botta, 18 Santiago Medrano, 19 Tomás Lavanini, 20 Tomás Lezana, 21 Martín Landajo, 22 Santiago González Iglesias, 23 Juan Cruz Mallia.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.