Poemas byt vas om Wallabies te klop

Tong in  die kies kan ʼn mens ná Saterdag se twee Rugbykampioenskap-toetse seker sê die rugbykrag lê nie in Australasië nie!

Die Argentynse Poemas het, soos die Springbokke teen Nieu-Seeland, vernaamlik met hul vasbyt en durf die toets teen Australië aan die Goue Kus met 23-19 gewen. Net soos die Bokke, maar darem ook minder effektief, het hulle die Wallabies se agterlyn met goeie lakwerk geneutraliseer.

En net soos die Springbokke moes hulle teen die einde vasbyt om vir hulle hanteerfoute te vergoed.

Dit was nie ʼn goeie wedstryd nie met hanteerfoute en oortredings by die afbreekpunte wat gepla het. Nie een van die twee spanne was noemenswaardig beter as in hulle onderskeie oorwinnings teen die vrot Bokke in Mendoza en Canberra die afgelope weke nie.

Dit was nietemin kliphard, en dit is duidelik dat die Argentynse spel gedy onder hul nuwe afrigter  Mario Ladesma. Hulle spelpatroon om vlak met kort aangeë aan te val het die Aussies baie probleme gegee en hulle is drie keer ná beslissings van die TV-skeidsregter drieë ontsê.

Die Poemas het ook, wanneer hulle in die oopte was, met goeie voetwerk, aansluiting en besluitneming beïndruk.

Australië se probleme sal nie gou uitgestryk word nie. Benewens die foute het hulle nie as eenheid gespeel nie, en Kurtley Beale, steeds vlymskerp op die aanval, is nie ʼn toets-losskakel nie. Ook was David Pocock, hoewel steeds baie goed, nie alleen opgewasse by die afbreekpunte waar die Poemas as eenheid harder gewerk het nie.

Puntemakers ‒

Australië (14) 19: Drieë: Will Genia, Israel Folau, Dane Haylett-Petty. Doelskoppe: Matt Toomua (2). 
Argentinië (17) 23:
Drieë: Nicolás Sánchez, Bautista Delguy. Doelskoppe: Nicolás Sánchez (2). Strafdoele: Sánchez (2), Boffelli.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Swartwolf ·

Lekker om Aussie onder aan die Super rugby log te sien…..” Aussie go ye good thing “……

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.