Poemas-foute maak dit makliker vir Wallabies

wallabies-logo-cropDie Wallabies is nou wel nie naastenby die All Blacks nie, maar daar was tog ooreenkomste in hulle 33-21-oorwinning oor Argentinië op Twickenham met die wedstryd vroeër Saterdag op Kingspark.

Daar was heelwat wat die Poemas veel beter as die Springbokke gedoen het in ʼn wedstryd wat hulle net sowel kon gewen het. Maar daar was ander waar die Wallabies en die Springbokke feitlik ewe veel gesukkel het.

Met dié oorwinning het die Wallabies tweede in die kompetisie geëindig. Suid-Afrika was tweede en die Poemas laaste. Nieu-Seeland het natuurlik twee wedstryde gelede al die kampioenskap beklink.

Soos op Kingspark, het die wenspan, die Wallabies, gebiedsvoordeel oorheers (66-34). Die All Blacks se persentasie van die besit was 69-31.

Die verdediging-statistiek in die twee wedstryde was ook amper dieselfde, met die twee verloorspanne teenoor die wenspanne se persentasie en ook die persentasie verbroude duikslae baie eenders.

Die Poemas en die Bokke was verder eenders  met die te veel foute wat albei gemaak het. Die Poemas het twee drieë op die doellyn weggesmyt en twee keer die Wallabies toegelaat om van hul foute af te gaan druk.

Waar die Poemas Suid-Afrika egter ente voor was, was met die dra van die bal. Hulle het dit meer gedoen as selfs die wenspan, met die Wallabies wat ondanks hulle gebiedsoorheersing hier tweede viool moes speel.

Dis seker die  invloed van die voormalige All Blacks-afrigter en 2011-Wêreldbekerwenner, Sir  Graham Henry wat dit teweegbring het.

Hy was twee jaar lank die Argentyne se konsultant en daar was in Saterdag se wedstryd opvallend dieselfde styl rugby deur die Poemas as wat die All Blacks gespeel het. Hulle aanvalle het uit diepte gekom en hul ondersteuning was uit die boonste rakke.

Hulle het ook talle kere indrukwekkend in die duikslag die bal aangegee soos hulle suksesvol gemik het daarna om bewegings aan die gang te hou.

Sodra die Poemas hul afronding onder druk verbeter, sal die voorste spanne ter wêreld moet begin bontstaan.

Die Wallabies was in vele opsigte effens teleurstellend, maar toe hulle in die 39ste minuut ʼn verdoelde drie aanteken en rustyd met ʼn voorsprong van 18-5 binnegaan, was daar die gevoel dat die stryd gewen is.

Toe foute ook nie na die breekslag afneem nie, was die Poemas se doppie geklink en was die sukkelende Wallabies nie net baas nie, maar in tweede posisie op die Rugbykampioenskap se puntelys.

Puntemakers –

Argentinië (5) 21: Drieë: Matías Alemanno,, Jerónimo De la Fuente. Doelskoppe: Santiago González Iglesias. Strafdoele: Santiago González Iglesias 3.
Australië (18) 33 – Drieë: Alan Coleman, Samu Kerevi 2, Dean Mumm. Doelskoppe: Brendan Foley 2. Strafdoele: Foley 3

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.