Poemas jag eerste sege in Rosario

imagesCA330ZRKIn die harwar van al die emosie rondom en afwagting vir die stryd tussen die All Blacks en die Springbokke is dit makilik om van die houtlepelstryd tussen die Wallabies en Poemas te vergeet.

In die een is ‘n reekstitel op die spel, terwyl daar slegs trots is om voor te speel in die ander een.

Hierdie wedstryd kan dalk ’n verrassing oplewer. Die Poemas soek steeds na hul eerste oorwinning in die Rugbykampioenskap sedert hulle laas jaar as die vierde land ingesluit is. Sedertdien het hulle al gelykop met die Bokke in Mendoza gespeel en die All Blacks en Wallabies goed skrikgemaak.

In verlede naweek se stryd teen die All Blacks het hulle die wêreldkampioene immers in die eerste helfte tot slegs een drie beperk en meeste van die gebiedsvoordeel in die eerste 40 minute geniet. Hoewel hulle met 15-33 die knie moes buig, was dit ’n veel meer gelykopstryd as wat die telbord wil voorgee en die All Blacks het hul bonuspuntdrie eers in die doodsnikke gedruk.

Laas jaar se wedstryde tussen die Aussies en Argentyne was naelbyt affêres en so ook vanjaar s’n in Perth. Die reën het die spel wel daardie dag belemmer, maar die Aussies moes hard veg om uiteindelik 14-13 baas te wees in ’n wedstryd vol foute en een wat die Poemas eintlik moes gewen het.

Die Aussies, bekend om hul flair en die intelligente agterlynspel waarmee hulle hul opponente uitoorlê, lyk tans glad nie na die rugbymoondheid wat reeds twee Rugbywêreldbekers op hul kerfstok het nie. Hulle kort rigting en kreatiwiteit in die agterlyn, hul spel getuig nie van hul tradisionele selfvertroue nie en hul voorspelers is nie opgewasse teen die ander drie deelnemers aan die Rugbykampioenskap nie.

Saterdag se stryd in Rosario kan daarom die Poemas se beste kans wees om hul eerste sege in hierdie prestigeryke reeks te behaal. Die Poemas se konvensionele sterkpunt, naamlik die vaste fasette en voorspelers, is waar hulle die oorhand kan kry en ’n platform bou vir iets waarvoor hulle nie bekend is nie: drieë druk. Die Poemas se skrum het in hierdie jaar se Rugbykampioenskap uitstekend vertoon en word as een van die bestes ter wêreld geag terwyl die Aussies lank reeds sukkel op hierdie gebied. Hulle het juis die All Blacks laas naweek ’n vryskop en strafskop laat afstaan in die eerste helfte danksy goeie skrumwerk.  Hul verdediging is ook uiters suinig en hulle sal die Aussies, wat tans reeds sukkel om drieë te druk, ook só wil beperk.

Voeg hierby Nicolàs Sànchez se taktiese skoppe en gebiedsvoordeel en dit kan ’n lang dag vir die Wallabies raak.

Afskoptyd is weer eens vir die naguile om 00:40

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.