Poemas kom met nuwerige span na SA

Foto: aplenorugby.co.ar

Foto: aplenorugby.co.ar

Miskien gaan die gesigte nie vir ons nuut wees nie, maar dit is `n relatiewe nuwe span wat Woensdag uit Argentinië vertrek vir die eerste toets in vanjaar se Rugbykampioenskap wat op 16 Augustus op Loftus teen die Springbokke gespeel word.

Die afrigter, Daniel Hourcade, het, met die uitsondering van `n paar geharde veterane, `n span gekies waarvan `n hele komp spelers vir die Pampas XV in twee Vodacombekerreekse gespeel het. Die Argentyne het in 2011 die eerste span geword wat onoorwonne deur die kompetisie is. Die spelers van die Pampas XV was ook die kern van die span wat vanjaar se Stille Oseaankampioenskap gewen het.

Hourcade het Pampas XV in Suid-Afrika gebrei. Hy het ook heelwat internasionale ervaring met die sogenaamde Argentynse Jaguars; het Argentinië se sewesspan afgerig en het Portugal onder hande geneem en ontwikkel tot hulle in die IRB-reeks begin speel het. Hy was ook afrigter van Argentinië se o.21’s.

Hy het in Oktober verlede jaar die afrigtingsleisels van die nasionale span oorgeneem.

Benewens die klomp nuwe gesigte in die Rugbykampioenskap is daar ook `n groot afwyking van die verlede, toe Argentinië grootliks staatgemaak het op spelers wat in Brittanje en Europa klubrugby speel. Slegs 12 van die huidige groep van 26 het Europese ervaring.

Dis nie dat Hourcade die Springbokke onderskat nie. Hy sê egter openlik dat hy wel vir die Bokke kans sien, maar dat die span gekies is met die oog op aanstaande jaar se Wêreldbeker in Engeland.

Hourcade het ook `n nuwe kaptein, die haker hooker Agustin Creevy, aangewys.

Die span is:

Agterspelers: Joaquin Tuculet, Lucas Gonzalez Amorosino, Manuel Montero, Horacio Agulla, Juan Imhoff, Marcelo Bosch, Nicolas Sanchez, Santiago Gonzalez Iglesias, Juan Martin Hernandez, Martin Landajo, Tomas Cubelli
Voorspelers: Juan Fernandez Lobbe, Juan Manuel Leguizamon, Pablo Matera, Leonardo Senatore, Rodrigo Baez, Tomas Lavanini, Mariano Galarza, Matias Alemanno, Marcos Ayerza, Ramiro Herrera, Lucas Noguera Paz, Bruno Postiglioni, Nuhuel Tetaz Chaparro, Matias Cortese, Agustin Creevy (kaptein).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anton May ·

Gaan nog steeds ‘n harde wedstryd wees. Ek hoop hartlike Hourcade kan ‘n baie sterk Argentynse span bou vir volgende jaar se Wêreldbeker. Dit sal lekker wees as al vier ZANSAR lede in die semi-finaal kan speel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.