Poemas laat gevaarliggies brand

Foto: GB Jordaan

Foto: GB Jordaan

Heyneke Meyer het na Saterdag se toets die gewone dinge gesê, maar diep binne-in was hy seker ook bra teleurgesteld oor ‘n paar aspekte van die Bokke se spel.

“Die nuwe spelers het die karakter getoon wat ek van hulle verwag het. Baie van hulle is 23 of jonger,” het die Bokke se breier ná die toets gesê. En dat hy trots is op die oorwinning.

Dis alles waar – ook dat die Poemas nie ‘n kontinuïteitspan is nie, maar ‘n mededingende span is wat keer dat ‘n ander span fases opbou. Maar ons het dit mos voor die tyd geweet?

Meyer het ook lof gehad vir die manier waarop die Sprinbokke in die laaste klompie minute die Poemas se lynstane naby die Bok-doellyn verdedig het.

Nou ja, origens het die Bokke maar taamlik verflenterd in die lynstane gelyk en op my telkaart vyf verloor teenoor die Poemas se een. Anders as die Poemas s’n, was heelwat van die Bokke se lynstaanbesit ook bra slordig. En daardie verbete verdediging kon voorkom gewees het as die Bokke ‘n kwartier voor die einde met ‘n maklike strafskop die gaping tot nege punte gerek het.

Meyer het seker in die geslote kring hard hieroor gepraat. Dit was toe lankal onmoontlik om nog drie drieë vir ‘n bonuspunt te druk met ‘n lynstaan wat gesukkel het.

Die Poema-verdedigers se laagvatte – om die bene en enkels – was ook heelwat effektiewer as die Bokke s’n. Daar was net twee lynbreke in die wedstryd – albei deur die Argentyne.

Voorlangs het die Springbokke ‘n gewigsvoordeel van meer as 50 kg gehad, maar dit was die Poema-pak wat die toon aangegee het, al het albei spanne drie strafskoppe op hul eie skrums afgestaan. Duane Vermeulen, wat ‘n uitstekende wedstryd gehad het, moes telkens die swakkerige balle agter die Bokke se skrums optel. Die Poemas het ook meer georganiseerd gelyk by die afbreekpunte.

Een teorie is dat die Poemas nie die bal in die skrums gehaak het nie en dus meer voete op die grond gehad het. Maar dan volg ‘n slim pak voorspelers seker hul opponente se taktiek?

Die Poemas se taktiese skoppe was ook veel beter as die Bokke s’n. Ja, heelparty Poemas speel hul rugby op Europa se nat en swaar velde, maar . . .

Die Poemas, op hul beurt, voel dat hulle besig is om die ander spanne in die Rugbykampioenskap se respek te wen. Dit het beslis Saterdag gebeur, maar dit is nog ‘n lang kompetisie. En kom ons kyk eers wat die naweek in Salta gebeur – as die veld droog is en die Bokke hul angels kan inspan . . .

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.