Poemas maak geskiedenis teen futlose Bokke

Springbokke_vs_AllBlacks_Ellispark_Lood_DeJager_GBJordaan_007.jpg

Lood de Jager, wat sy hart uitgespeel het (Foto: GB Jordaan)

Argentinië het Saterdag geskiedenis gemaak deur die Springbokke vir die eerste keer te klop met hulle 37-20 sege in die Rugbykampioenskap in Durban.

Die Suid-Amerikaners het verdien om te wen met die Bokke wat futloos in alle aspekte van die spel was.

Die wedstryd het skaars afgeskop toe die Argentyne al agter die doellyn gaan kuier het na `n Marcelo Bosch-drie in die tweede minuut.

Die Springbok-losskakel Handré Pollard het egter gou die agterstand met `n strafdoel verminder.

Die Suid-Amerikaners het die Bokke deurgaans met aggressie teruggedwing met die tuisspan wat die lewe ook vir hulleself bemoeilik het deur die rits ongedwonge foute.

Twintig minute later maak die Argentyne weer so en druk na `n netjiese breekslag deur die skrumskakel Tomas Cubelli met vleuel Juan Imhoff wat die eerste van sy driekuns gaan druk het. Op 14-3 was die Bokke duidelik op die veld  die telbord in die moeilikheid.

In die 28ste minuut het Pollard nog drie punte bygevoeg met `n strafdoel om die punteverskil na agt te laat krimp. Dit het heelwat beter vir Suid-Afrika gelyk, maar was van korte duur met die Suid-Amerikaners wat op die halfuurmerk hul derde drie gaan druk het.

Dit het gevolg op die soveelste sterk Argentynse skrum waar die groentjie vaskopstut van die Bokke Vincent Koch behoorlik gekreun het onder die druk.

Imhoff het die beweging afgerond om in die hoekie te druk vir `n 21-3 voorsprong.Net voor rustyd het die Bokke met mening ingeklim.

Die slot Lood de Jager, wat een van die min Springbokke was wat volgens sy potensiaal gespeel het, het van `n variasie by `n rolmaallynstaan gaan druk  en Pollard het verdoel. Weer was daar hoop by die ondersteuners.

Die Argentyne het egter die voorsprong weer met ses punte via twee strafdoele vergroot om teen rustyd 27-13 voor te loop.

Koch, wat eerder van die wedstryd sal wil vergeet is in die tweede helfte met Marcel van der Merwe vervang.

Kort na die hervatting het Imhoff doodluiters oorgedraf vir sy derde drie na die Bokke aan die slaap gevang is.

Die Springbok-breier Heyneke Meyer se waagstuk met Jesse Kriel was `n duidelike mislukking met `n ervare vleuel wat duidelik in die posisie makeer het.

Kriel het egter `n hand in die Bokke se tweede drie gehad nadat hy die vlugvoetige Willie le Roux deurgestuur het vir sy drie. Le Roux het goeie werk met `n swenk op volle vaart gedoen en het, soos die afgelope tyd, tussen goed en uiters middelmatig gewissel met te veel foute wat insluip.

Met dié het die Bokke 14 punte gehad om in te haal maar `n Marcelo Bosch skepdoel het hul voorsprong in die laaste kwart weer vergroot na 37-20.

Bryan Habana se drie aan die einde het die Bokke effens gevlei na die foutbelaaide vertoning waar die Springbokke fout op fout begaan het met die bal wat doelloos rondgeslinger is en ook individuele spel sonder veel ondersteuning vir die baldraer.

Die kaptein Jean de Villiers se terugkeer was veronderstel om kalmte in die Bokvertoning te bring, maar daarvan was min te sien.

Met slegs volgende Saterdagaand se wedstryd teen Argentinië in Buenos Aires voor die  Wêreldbeker oor sal hierdie vertoning die Bokbreier Heyneke Meyer slapelose nagte gee. Dit was `n uiterse getjommel, veral na `n skaflike vertoning teen die All Blacks twee weke gelede.

En Pollard het op losskakel behoorlik kleigetrap. Hoewel daar geen twyfel is oor sy talent nie, het sy selfvertroue `n behoorlike knou weg.

Punte –

Suid-Afrika: Drieë: Lood de Jager, Willie le Roux, Bryan Habana. Doelskoppe: Handre Pollard 2. Strafdoele: Pollard 2
Argentinië: Drieë: Juan Imhoff 3, Marcelo Bosch. Doelskoppe: Juan Martin Hernandez 4. Strafdoele: Hernandez, Bosch. Skepdoel: Bosch

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Danie ·

Heyneke spandeer te veel tyd in ouetehuise en hospitale op soek na talent! Lions beskik oor die beste voorrye in die land maar word nie eens in Springbokgroep opgeneem nie. Jaco Kriel die beste losvoorspeler in die superreeks se talent en aanvoeling vir die spel word mis gekyk

Sakkir ·

Duidelik het die terug keer van de Villiers misluk. Hy het geen invloed op wedstryd gehad nie. Meyer moet beseerdes laat staan wat deur seisoen geen rugby gespeel het nie

Swannie ·

Heyneke Zuma Meyer het vasgesteek met 10 jaar terug se Noord-Transvaal rugby patroon wat vandag se patrone nie pas nie. Die beste senter-paar is opgebreek om plek te maak vir ‘n stadige en uitvorm Jean de Villiers, opvorm Schalk Burger is nie ‘n agsteman nie en so waar gaan hy die beste slotpaar ook opbreuk om sy seun, Victor, te akkomodeer. Ek voorsien vir ons moeilike tye in die Wereldbeker en na my opinie is dit te laat en gaan HZM nie verander nie! Nag our Grote!

Takkie Takuuza ·

Die geskommel is gedoen om vir Jean plêk te maak as kaptein, nie gewerk nie. Jean is te stadig nou. En dit is al wat ek teen die aftigter kan hou. Aanslane, vorentoe aangee, duikslae mis, besit wegskop en ‘n mal skeidregter maak hom net so briesend as vir my. Ek glo hierdie was nog ‘n proefneming en ons sal volgende week iets anders sien. Daar is nie tyd om die afrigter se kop te eis nie en emosionele kritiek gaan net jou asem mors. Iewers moet jy begin ondersteun, want as ons wen, gaan jy die suurgat met die duim in die bekkie wees wat in die hoek staan en die party mis oor jy nie jou sin kon kry nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.