Poemas skiet ver tekort teen All Blacks

All-Blacks-logo_1087289[1]Die All Blacks het in Napier 28-9 teen die Argentynse Los Pumas geseëvier én vier drieë vir die bonuspunt gedruk.

Hulle het nou 12 ligapunte en skuif sodoende op na eerste plek op die Rugbykampioenskap se puntelys. Die Springbokke sal dus vandag ’n bonuspunt teen die Wallabies moet inoes om die top-posisie terug te neem.

Die punteverskil kon groter gewees het as Beauden Barrett net so goed kon skop soos hy aangeval het. Hy het vier uit vyf skoppe gemis – waarvan sommiges verspot maklik was – en sodoende het nege punte verlore gegaan.

Hy is in die 55ste minuut, toe die All Blacks steeds net met 12 punte voorgeloop het, vervang deur Colin Slade, wat bekend is vir sy akkurate korrelwerk, maar toe ook’n strafskop verbrou het. Dit lyk egter of Barett `n voet beseer het en nie net oor sy skopwerk vervang is nie.

Argentinië het op hul beurt min gewys van die entrepreneuriese ingesteldheid wat hulle teen die Springbokke in Salta getoon het. Ten spyte daarvan dat die reën, nes in Sydney, die groot gelykmaker in die eerste helfte was, het die All Blacks ’n yslike voordeel ten opsigte van balbesit en gebiedsvoordeel bewerkstellig.

Die Poemas het kortstondige aanvalsperiodes met dryfmaalbewegings beleef, maar die tuisspan se oorheersing was ondanks heelwat hanteerfoute nooit te betwyfel nie. Buiten dat hulle in die Poemas se helfte geboer het, het hulle met rustyd reeds 222 m gehardloop (Poemas 54 m) en nege verdedigers geklop (Poemas 4).

Dis daarom effe verbasend dat hul eerste drie eers in die 27ste minuut gedruk is en hulle nie rustyd verder as 13-6 voor was nie.

Barrett het die Argentynse verdedigingslyn met ’n steekskoppie deurpriem en Brodie Retallick het weer die besit verseker. Aaron Smith het die bal vir Conrad Smith gegee en dié se rolskop het Julian Savea gevind.

Die All Blacks se tweede drie kort voor rustyd was selfs meer eksplosief. Hulle het eerstens ’n vasskop in die Poemas se helfte van die veld gewen. Ná Aaron Smith se aangee het Barrett vir sy tentatiewe begin en swak hantering vergoed deur ’n pragbres in die middelveld te slaan, wyd te swenk en vir Liam Messam aan sy buitekant weg te stuur.

Barrett en Savea het vroeg in die tweede helfte gekombineer vir ’n sensasionele derde drie.’n Lynstaanbal het sy pad na Barrett gevind en hy het Savea in ’n gaping tussen Sanchez en ’n geflousde Juan Martin Hernandez geplaas vir nog vyf punte: 18-6.

Dit het die All Blacks daarna amper ’n halfuur geneem om die bonuspuntdrie te druk. Read het die bal agter ’n skrum vyf meter van die Argentyne se doellyn opgetel, vir Sanchez as die enigste verdediger ingetrek en die bal uitgegee sodat Aaron Smith onder die pale kon druk.

Punte

Nieu-Seeland 28: Drieë:Savea 2, Barrett, Aaron Smith. Doelskoppe:Slade 1. Strafdoele:Barrett 1, Slade 1.

Argentinië 9: Strafdoele:Sanchez 3. 

Nieu-Seeland: 15 Israel Dagg, 14 Ben Smith, 13 Conrad Smith, 12 Ma’a Nonu, 11 Julian Savea, 10 Beauden Barrett, 9 Aaron Smith, 8 Kieran Read, 7 Richie McCaw (kaptein), 6 Liam Messam, 5 Sam Whitelock, 4 Brodie Retallick, 3 Owen Franks, 2 Dane Coles, 1 Wyatt Crockett.
Bank: 16 Keven Mealamu, 17 Ben Franks, 18 Joe Moody, 19 Jeremy Thrush, 20 Sam Cane, 21 TJ Perenara, 22 Colin Slade, 23 Malakai Fekitoa. 

Argentinië: 15 Joaquin Tuculet, 14 Horacio Agulla, 13 Marcelo Bosch, 12 Juan Martin Hernandez, 11 Lucas Gonzalez Amorosino, 10 Nicolas Sanchez, 9 Martin Landajo, 8 Leonardo Senatore, 7 Juan Manuel Leguizamon, 6 Juan Martin Fernandez Lobbe, 5 Tomas Lavanini, 4 Mariano Galarza, 3 Ramiro Herrera, 2 Agustin Creevy (kaptein), 1 Marcos Ayerza.
Bank: 16 Matas Cortese, 17 Lucas Noguera Paz, 18 Nahuel Tetaz Chaparro, 19 Matas Alemanno, 20 Rodrigo Baez, 21 Tomas Cubelli, 22 Santiago Gonzalez Iglesias, 23 Juan Imhoff.

Skeidsregter: Pascal Gauzère (Frankryk)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.