Poemas skrik dalk vinniger as Saru wakker

Die Argentynse Rugbyunie (UAR) gaan sy keurbeleid vir die nasionale span luidens berigte op sy eerskomende jaarvergadering in Maart hersien.

Tans kom geen speler wat sy rugby buite Argentinië speel vir die Poemas in aanmerking nie, ʼn reëling wat in wese die spelerspoel beperk tot diegene wat vir die Jaguares in die Superrugbyreeks speel.

Dit het egter nie die gewenste uitwerking gehad nie, en verskeie topspelers het in die jongste verlede die pad na die vleispotte van Europa gevat.

Sake kan dalk veral in die voorry lol, waar veterane soos Lucas Noguiera Paz (43 toetse) en Ramiro Herrera (37 toetse) asook die belowende jongelinge Cristian Bartoloni (twee toetse) en Facundo Gigena (een toets) onderskeidelik vir Bath in Engeland, die Franse klubs Stade Française (Top14) en Soyaux Angoulême (Pro D2), en Leicester in Engeland gaan speel.

Opvallende weglatings uit die Jaguares-groep wat bekend gemaak is, is die senters Santiago Cordero (33 toetse), Manuel Montero (27 toetse), en die flank Rodrigo Báez (17 toetse).

Al drie is met moontlike skuiwe na Europa verbind; Cordeiro glo nes Gigena na Leicester.

Die dienste van spelers wat reeds in Europa speel soos die losvoorspeler Facundo Isa (Toulon), die vleuel Juan Imhoff (Racing 92), die haker Facundo Bosch (Agen), die losskakel Patricio Fernández (Clermont Auvergne) en die senters Marcelo Bosch (Saracens) en Juan Pablo Socino (Newcastle) kan die Poemas ook slegs tot voordeel strek.

Die Springbokke sit met ‘n soortgelyke probleem.

Jurie Roux, die SA Rugbyunie (Saru) se uitvoerende hoof, het onlangs laat blyk dat dié liggaam die beperkinge van sy 30-toetsafsnypunt besef.

Saru het gehoop dat dit jonger spelers in Suid-Afrika sal hou, maar dit is ooglopend nie die geval nie.

Daar is egter nog geen aanduiding dat die unie werk daarvan maak om sake reg te stel nie.

Australië en Wallis pas ʼn afsnypunt van 60 toetse toe, maar daar heers nog onsekerheid oor die sukses of nie van die beleid in hul gevalle.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Veritas ·

Die ‘dertig toetse’ beperking is sekerlik die domste idee wat SARU kon aan dink. Dit maak absoluut geen sin nie. Iemand wat alreeds dertig toetse gespeel het, het nie meer die hongerte om weer vir die Springbokke te speel nie. Hy het reeds baie gedoen terwyl iemand met, sê, tien toetse agter die blad, graag nog wil speel. Ek kan verstaan dat SA rugby in ‘n gemors is as diegene wat in beheer is, nie dié een kan uitwerk nie. Red nou ‘n land met dié tipe van redenasie.

Nico K ·

Dis net in rugby waar hierdie probleem geld. Sokker is lankal daar verby. ‘n Mens speel vir geld en klaar. Kon ook vir hulle gesê het die reel gaan nie werk nie.

lollie ·

Ons kan nie spelers keer om oorsee te speel nie. Gee plaaslike spelers voorkeur tussen wereldbekers maar stel geen beperkings vir versterkings/verbeterings wat van oorsee ingeroep kan word nie. Ek stel voor dat daar proewe gehou word in ‘n wereldbekerjaar, plaaslike en oorsese spelers moet hierna uitgenooi word.

Oom Piet ·

Ek twyfel of daar ooit weer proewe gehou sal word, want dan gaan sekere kwota spelers maar sleg afsteek.

Cjan ·

Wanneer gaan SARU die kwota stelsel verander dat daar 5 witspelers in die 23 tal moet wees?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.