Poemas snoei weer kwaai aan span

Die Argentynse Poemas se afrigter, Daniel Hourcade, weet steeds nie wie sy beste span is nie.

Ja, dis lente en oral word ou lote weggesny, maar op die rugbyveld moet jy darem bestendig met jou spankeuses wees. Die Jaguares speel mos darem nou al twee jaar lank in die Superreeks en daar is geen ander manier hoe ‘n speler sy plek in die Poemasspan kan oopspeel nie.

Hourcade het, nadat die Poemas hul afgelope twee toetse in Port Elizabeth en Salta teen die Bokke verloor het, sewe veranderings aan die span gemaak vir Saterdag se Rugbykampioenskap-toets teen die All Blacks in New Plymouth.

Die Poemas wou meer teen die Bokke in Salta skop en het die veteraan Juan Martin Fernandez toe bo Nicolás Sanchez as losskakel ingespan. Maar hul voorspelers kon nie genoeg besit afdwing nie en nou word daar weer op Sanchez teruggeval.

Matias Moroni speel in Matias Orlando se plek senter (hoekom weet ons nie) en Hernandez skuif weer senter toe en die vleuel Santiago Cordero vervang Ramero Moyano.

Voorlangs moes Hourcade ʼn paar noodgedwonge skuiwe maak.

Die vaskopstut Ramiro Herrera is beseer en word deur Nahuel Chapparo vervang, wat in die eerste toets teen Beast Mtawarira geknor het. Die slot  Guido Petti, wat in die Baai in die span was wat teen die Bokke vasgeval het, vervang die geskorste en ongedissiplineerde Tomas Lavinini, wat rammetjie uitnek teen die Bokke was en ʼn rooikaart gekry het.

Daar is ook ʼn nuwe losvoorspeler-kombinasie in Benjamin Macome, Javier Desio en Pablo Matera.

Kan die span die All Blacks skrikmaak? As hulle in 24 toetse nog nie die All Blacks kon klop nie, hoekom nou?

Argentinië se span –
Joaquin Tuculet, Santiago Cordero, Matias Moroni, Jeronimo de la Fuente, Emiliano Boffelli, Nicolás Sanchez, Tomas Cubelli, Benjamin Macome, Javier Ortega Desio, Pablo Matera, Matias Alemanno, Guido Petti, Nahuel Tetaz Chaparro, Agustin Creevy (kaptein), Lucas Noguera Paz. Bank: Julian Montoya, Santiago Garcia Botta, Enrique Pieretto Heilan, Marcos Kremer, Tomas Lezana, Martin Landajo, Santiago Gonzalez Iglesias, Matias Orlando.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.