Poemas wéét nou van All Blacks se hoër rat

all blacksVir 54 minute het dit gelyk of daar ʼn verrassing kan kom, maar toe het Nieu-Seeland na hul oorbekende hoogste rat oorgeskakel en die Rugbykampioenskap-toets teen Argentinië in Hamilton 57-22 gewen.

Dit was die All Blacks se 43ste opeenvolgende oorwinning in tuiswedstryde en hulle het dit met agt drieë teen een reggekry. In die tweede helfte het die All Blacks 33 punte teen drie aangeteken.

Na 54 minute was die telling net-net, 24-22, in die guns van die All Blacks wat rustyd 24-19 voor was. Ja, hulle het drie drieë teen een in daardie stadium op die telbord gehad, maar feitlik al die rugby is deur die Poemas gespeel.

Die Argentyne het geweier om  te skop en sodoende besit weg te gee (dalk ʼn les vir die Springbokke?). Hulle het as eenheid op die losbal toegesak en dit nie vir ʼn enkele baljagter gelos nie; na aan die afbreekpunte gebreek met al die voorspelers bymekaar en nie in ʼn lyn langs die losskrum te staan nie; en les bes, hulle het die All Blacks bitter min beweegruimte gegee.

Die Poemas het ook die kuns aan geleer om nie met bal en al gevat en grond toe geneem te word nie. Die gevolglike kontinuïteit het moontlik die All Blacks onverhoeds betrap.

Daar was beplanning in die prosesse wat hulle uitgevoer het, en die All Blacks was duidelik onder druk. Ook geen wonder nie, want die Poemas het in die eerste 50 minute feitlik dubbel soveel losskrums as die All Blacks gewen.

Van die All Blacks se hardlooprugby kon daar dus nie veel kom nie, hoewel hulle tóg drie keer voor rustyd gaan druk en die Argentyne tot hulle vroeë drie in die derde minuut beperk het. Nieu-Seeland was ook in die skrums baas maar het weens swak ingooiwerk in die eerste 50 minute nie in die lynstane oortuig nie.

Toe kom die plaasvervangers vir die ietwat sukkelende Kiwi’s vroeg, van die 49ste minuut af, op die veld en word dit vir die besoekers nag.

Tussen die 54ste en 67ste minuut het die All Blacks vier van hulle agt drieë gaan druk en was die Poemas se droom van ʼn eerste oorwinning oor die All Blacks weer aan flarde.

Miskien was die All Blacks nie sóveel beter nie, maar hulle gawe om te gaan druk wanneer hulle op die aanval is, het hulle in die eerste helfte in die prentjie gehou. Daarna, in die bietjie meer as die laaste kwart, het Nieu-Seeland se vaardigheid jou weer opgeval.

Hulle het hier en daar ʼn duikslag gelek maar benewens die eerste drie van Santiago Cordero na net drie minute het die Poemas net by uitsondering die All Blacks se doellyn (sonder sukses) bedreig.

Puntemakers –

Nieu-Seeland (24) 57: Drieë: Ryan Crotty 2, Ben Smith 2, Julian Savea, Beauden Barrett, Charlie Faumuina, Luke Romano. Doelskoppe: Beauden Barrett 6, Aaron Cruden. Strafdoel: Israel Dagg
Argentinië: (19) 22: Drie: Santiago Cordero. Doelskop: Nicolás Sánchez. Strafdoele: Sánchez 5.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frans C ·

Die Poemas kon uiteindelik nie die pas volhou nie. Die All Blacks was gelukkig om nie ‘n speler
vir 10 minute weens ‘n gevaarlike hoogvat te verloor nie.

dries ·

Gee die poemas maar kans, hulle gaan nog die wereld kampioene word.

Jakkalas ·

Beauden Barrett is brilljant, absoluut brilljant saam met Ben Smith het die AB die beste spelers in sleutel posisies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.