Polisieklopjag op Franse rugby se hoofkwartier

Die polisie het luidens berigte Dinsdag ʼn klopjag op die hoofkwartier van die Franse Rugbyfederasie (FFR) buite Parys uitgevoer na aanleiding van ʼn ondersoek na die FFR-president, Bernard Laporte, ʼn gewese Franse minister van sport.

Klopjagte is na berig word ook op die wonings van Laporte en Mohad Altrad, die eienaar van die Top14-klub Montpellier, uitgevoer.

Laporte word van ʼn belangebotsing beskuldig nadat hy glo tussenbei getree het om ʼn straf te versag wat die klub Montpellier opgelê is.

Daar word beweer dat Laporte nie net ʼn persoonlike vriend van Altrad is nie, maar dat sy maatskappy BL Communiation ook sake met Altrad se boutoerustinggroep BTP Altrad doen.

Montpellier is vroeër deur die Nasionale Rugbyliga (LNR) met €70 000 (sowat R1 miljoen) beboet, maar Laport se tussenkoms het glo daartoe gelei dat die boete tot €20 000 (sowat R295 000) verminder is.

Die straf het gespruit uit baniere wat die LNR-base gekritiseer het, en wat Montpellier tydens ʼn wedstryd teen Stade Français in die Franse Top14-liga in die Altrad-stadion vertoon het.

Intussen is aangekondig dat Altrad se onderneming die Franse toetsspan se eerste naamborg sal word.

Dit was blykbaar die enigste bod wat ontvang is, en sal glo €35 000 (sowat R500 000) vir Franse amateurrugby oplewer.

Altrad se onderneming het na berig word ook die suksesvolle Franse Wêreldbekerbod ondersteun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.