Pollard haal bank (net-net) vir Blou Bulle

Handrè Pollard (Foto: GB Jordaan)

Dit was so hittete of die Springbok Handrè Pollard het glad nie die Blou Bulle se span teen die Sharks Saterdag in Durban gehaal nie. Nou sit hy darem op die bank.

Die bankspeler Manie Libbok het las van sy blindederm, en het aan die span onttrek – wat plek vir die laat insluiting van Pollard gelaat het.

Pollard is vroeër saam met sewe ander Springbok-randeiers vrygestel om Curriebekerrugby te kan speel, maar die Bulle se rugbydirekteur, John Mitchell, het te kenne gegee dat kontinuïteit in die huidige stadium van sy herbouproses van die opperste belang in sy spankeuse is.

Hy het slegs twee veranderings aan die opdrafspan aangebring.

Johnny Kotzé (regtervleuel) kry sy eerste kans nadat hy twee keer van die bank af gespeel het, en Conraad van Vuuren (vaskopstut) was lanklaas in die beginspan.

Hulle vervang onderskeidelik vir Rabs Maxwane en Matthys Basson.

Basson kry op die bank plek, waar Ulrich Beyers naas Pollard die ander nuweling is.

Die span –

15. Warrick Gelant, 14. Duncan Matthews, 13. Burger Odendaal (kaptein), 12. JT Jackson, 11. Johnny Kotzé, 10. Marnitz Boshoff, 9. Ivan van Zyl, 8. Jano Venter, 7. Jannes Kirsten, 6. Nick de Jager, 5. Aston Fortuin, 4. Ruben van Heerden, 3. Conraad van Vuuren, 2. Edgar Marutlulle, 1. Pierre Schoeman. Bank: 16. Johan Grobbelaar, 17. Matthys Basson, 18. Tim Agaba, 19. Marco van Staden, 20. Piet van Zyl, 21. Handrè Pollard, 22. Ulrich Beyers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.