Pollard in, Kolisi uit

Die Springbokke se Handré Pollard. Foto: Phill Magakoe/AFP.

Handré Pollard sal die no. 10-trui in Bloemfontein dra, terwyl hy terselfdertyd sommer ook die Springbokke in die tweede toets teen Wallis sal aanvoer. Dit terwyl die Bok-kaptein Siya Kolisi dié rondte uitsit.

Jacques Nienaber het ’n hele paar veranderings aan die span aangebring wat die afgelope Saterdag ’n broekskeur-sege van 32 – 29 teen Wallis behaal het.

Opwindende spelers soos Evan Roos en Kurt-Lee Arendse is in die beginspan, terwyl Warrick Gelant en Aphelele Fassi ook weer ’n kans in die agterlyn sal kry.

Dan maak ou strydrosse soos André Esterhuizen en Marcell Coetzee ’n welkome terugkeer, met Pieter-Steph du Toit ook in die opdrafspan.

Evan Roos. Foto: Twitter.

Op die plaasvervangersbank sal Deon Fourie, Ruan Nortjé en Ntuthuko Mchunu nie kan wag om hul verskyning op die veld te maak nie.

“Ons het uit die staanspoor aangedui dat ons ’n balans moet vind tussen ons strewe om wedstryde te wen en om talentvolle jong spelers ’n geleentheid te bied om hul stempel op die internasionale verhoog af te druk,” het Nienaber gesê.

Kolisi is waarskynlik uitgelaat om jonger spelers ʼn kans te gee met die oog op volgende jaar se Wêreldbeker.

Volgens die Springbok-afrigter is daar nou ervare spelers in sy wedstrydgroep, sowel as spelers wat goeie rugby vir hul klubs en provinsiale spanne gespeel het.

Kurt-Lee Arendse op die oorlogpad. Foto: GB Jordaan.

Hy het egter weer eens bygevoeg dat Wallis nie onderskat moet word nie.

“Hulle het verlede week gewys dat hulle vir die volle 80 minute van die wedstryd kan veg en ons verwag weer ’n soortgelyke aanslag hierdie week. Dit sal ’n baie goeie toets vir die jonger spelers in die groep wees om kragte teen van die beste spelers in Wallis te meet; baie van die ouens het immers vir die Britse en Ierse Leeus uitgedraf.”

Die plaasvervangersbank is oudergewoonte tussen ses voorspelers en twee agterspelers verdeel, met Grant Williams en Damian Willemse wat vir die nodige veelsydigheid en vonk kan sorg.

Springbokke: Warrick Gelant (heelagter), Kurt-Lee Arendse (regtervleuel), Jesse Kriel (buitesenter), André Esterhuizen (binnesenter), Aphelele Fassi (linkervleuel), Handré Pollard (losskakel en kaptein), Jaden Hendrikse (skrumskakel), Evan Roos (agtsteman), Pieter-Steph du Toit (flank), Marcell Coetzee (flank), Marvin Orie (slot), Eben Etzebeth (slot), Trevor Nyakane (stut), Joseph Dweba (haker) en Thomas du Toit (stut). Plaasvervangers: Malcolm Marx, Ntuthuko Mchunu, Vincent Koch, Ruan Nortjé, Rynhardt Elstadt, Deon Fourie, Grant Williams en Damian Willemse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

piet ·

Albei kante toe. Die span mag dalk meer hardloop met die bal (alhoewel ek dit betwyfel met daai senterpaar, veral Esterhuizen). Kan moontlik verloor ook. Verrassende veelvuldige veranderings terwyl die reeks nog nie gewen is nie.

MakersMark ·

Wallis is beter as wat hul nr 9 posisie op die ranglys aandui. Die is nie ‘n span om teen te eksperimenteer nie. Dit kan liederlik backfire.

N ·

Wel ons senters het verlede naweek niks gedoen nie so dalk bewys hulle jou verkeerd. Jesse Kriel hoort nie daar nie.

piet ·

Ons senters en vleuels het verlede week niks gedoen nie want hulle het nie die bal gekry nie. Te betwyfel of dit anders gaan wees hierdie wedstryd want as Esterhuizen die bal kry, is dit waarskynlik crash ball teen die teenstanders vas.

N ·

Ons kyk maar. Kan werk, kan nie. Wallis het ons spel probeer speel. Dalk maak Esterhuizen hulle bietjie sag agter.

piet ·

Dis voorwaar ‘n interessante span. Nogal ‘n groot afwyking van vorige afrigters wat baie konserwatief was met spankeuses. Maar gaan hulle beter vaar as die ander span, ons sal maar moet sien. Veiliger opsie sou gewees het om min of meer dieselfde span sonder Jantjies te kies. Die ander span was definitief sterker as Wallis en sou myns insiens die 2de toets gewen het. Nou is ek nie so seker nie. Onthou nou omtrent ‘n hele span wat van vooraf moet saamspeel terwyl ek nie glo Wallis gaan soveel veranderings maak nie. Effense verrassing en waagstuk in my opinie. Kom ons kyk.

Kiepie ·

Moes hy nie eers seker gemaak het dat hy die reeks wen voordat hy soveel veranderinge aangebring het nie. Selfs die ou hande in die span het lanklaas saam gespeel.

B-Man ·

Onthou, Kiepie. Daar is ‘n rede hoekom dit ‘n “toets” genoem word. Afrigter moet veranderinge maak om verskillende kombinasies en spelers te toets.

Peter ·

Roos en Arendse kom uit n strawwe reeks, het genoeg ervaring opgedoen. Bokke sou Wallis met 30 punte gewen het met n ander losskakel. Swak Walliese span, goed om jonges teen hulle te slyp.

JohanR ·

Dit is ‘n billie van ‘n span. Daai los trio. Dink ons gaan ‘n ding hier sien.

Pieter ·

Dan sal ek kyk. Want daai karakter weet niks van Rugby af nie.

norms ·

Hi julle
Ek verwag dat die derde en laaste toets n kombinasie van dié twee spanne gaan wees. Uiteindelik sal die meerderheid van die kombinasie van verkose spelers teen die ABs te staan kom. Ek vermoed JN sien hierdie toetse as proefwedstryde. Ek mag verkeerd wees, maar die tekens is daar.
Groetnis.

piet ·

As jy ons laaste paar uitslae teen Wallis bekyk, is ek nie so seker dis ‘n span teen wie ons moet eksperimenteer nie. Hulle het wel ‘n swak 6 Nasies gehad vanjaar maar het dit verlede jaar gewen. Ons uitslae teen hulle vanaf 2019 is broekskeur.

N ·

Hou daarvan dat al die spelers kans gegee word. Bou aan n span vir die Championship reeks en volgende jaar se wereld beker. Hoop maar spelers soos Roos, Coetzee, Louw, Fourie, Elstadt, Kwagga, Wiese en Pieter Steph bewys dat hulle die nr 6,7 en 8 trei verdien en nie soos sommige kamma ‘inspirasie’ nr6 nie.

SjN ·

Gister is ek vir spoed oorskryding gevang naby Bloem en het 2 verpligte kaarties gekry om die game te gaan kyk die Saterdag, hoop maar die span vertoon baie beter sonder Bob en Polisi.

John ·

Bly Marcell is weer in die span..maar net jammer hy is nie meer die selfde speler wat hy was toe hy vir die Haaie gespeel het nie. Hy speel nou nes n tipiese Bul speler .

N ·

Reg stelling, amper wen span. Hulle het teen die Stormers verloor in die finaal, onthou.

Niklaas ·

Dalks was dit nie wys om met die Springbokke te eksperimenteer nie. Maar dis duidelik dat ons hope rugby talent beskikbaar het. Mag dit dan ook heel goed gaan met hierdie splinternuwe Bok span .

piet ·

Ons sal moet sien of hierdie “hope talent” ook op toetsvlak gaan skitter.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.