Pollard, Janse van Rensburg albei uit reeks teen Franse

Handré Pollard se besering is ʼn groot terugslag vir die Springbokke. (Foto GB Jordaan)

ʼn Terugslag het Suid-Afrikaanse rugby getref met die nuus dat Handré Pollard 8-10 weke langs die kantlyn gaan deurbring – amper so lank as die Lions se senter Rohan Janse van Rensburg se drie maande.

Dit maak dit uiters onwaarskynlik dat hulle vir die Juniereeks van drie toetse teen Frankryk slaggereed sal wees.

Die Springbok-losskakel Pollard, wat die grootste gedeelte van verlede seisoen met ’n besering misgeloop het, het tydens Donderdag se Bulls-oefening sy regterenkel beseer. Hy was ná sy lang afwesigheid van die veld besig om stelselmatig sy vorm te herwin.

Met die losskakelspens wat reeds uitgedun is met Patrick Lambie wat ook nog minstens ’n maand op die krukkelys gaan wees, sal niemand Allister Coetzee, afrigter van die Springbokke, verkwalik as hy paniekerig is oor ’n generaal vir die Bokspan wat in Junie drie toetse teen die Franse speel nie.

Die Bokke se sukses in dié reeks kan Coetzee se toekoms as Springbokafrigter bepaal.

Asof dit nie genoeg is nie, is alle aanduidings dat die Springboksenter Rohan Janse van Rensburg vir minstens drie maande nie sy voet op ’n rugbyveld sal sit nie nadat hy verlede week knieligamente teen die Stormers geskeur het.

Rohan Janse van Rensburg – drie maande van die veld (Foto GB Jordaan)

Pollard en Janse van Rensburg was albei feitlik sekere keuses vir die Springbokspan.

♦   Wie sal die nommertien-trui dra? Elton Jantjies is ’n wedstrydwenner as hy die dag op al sy silinders vuur, maar het nog nie regtig in die Springboktrui oortuig nie.

Gaan ons dit nie berou as Coetzee die jong losskakel van die Sharks, Curwin Bosch, nou al by die diepkant ingooi en hy dalk verdrink nie?

Is ’n speler soos die Cheetah Fred Zeilinga, wat onlangs na die Springbokoefenkamp genooi is, regtig ryp vir toetsrugby? Ditto Robert du Preez van die Stormers?

Verlede jaar toe die nood gedruk het, is daar op die veteraan Morné Steyn, wat steeds sy brood in Frankryk verdien, se knoppie gedruk. Dit is sekerlik nie die antwoord nie.

♦  Ná Coetzee se treurige vertoonlys verlede jaar kan hy nie bekostig dat sy span teen Frankryk vasval nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

joog ·

watse moeillikheid.

Pollard moet vir Medi-kliniek gaan werk. hy od opgepiep van skooldae af. makeer murg in sy pype

hoeveel wedstryde het hy die seisoen vir die bulle gedikteer.

Van rensburg se afwesigheid is n verlies.

Sharkie ·

Ek dink Bosch van die sharkies, al is hy jonk, moet hy op losskakel nou al vir die bokke speel!

Shark ·

Ek dink Curwin Bosch van die sharks al is hy nog jonk moet losskakel speel vir die bokke.

Joog ·

Jantjies dra al daai leeu span met hulle klomo nobodies man alleen vir jare.

meer wedstryde op sy eie gewen.

of dit oor sy pa nie n bok was nie.

wat het Robert du preez nou al gedoen. gemiddelde speler met sy pa se naam.

met n ander naam (willem van der merwe) sy hy nog varsity beker gespeel het

Leeuers ·

Net snaaks hoe Jantjies een van die beste losskakels in Super Rugby was laasjaar, maar die oomblik toe hy onder Alister Coetzee speel toe lyk dit of hy sal sukkel om ‘n Hoerskool se 3de span sal haal… Net soos in 2013 toe hy vir die Stormers geleen was, sy eerste wedstryd terug vir die leeus (Promosie/ Relegasie wedstryd) speel hy weer ‘n barshou… Alister sal met Robert du Preez gaan, hy is immers ‘n Stormer en ons almal weet as jy 3 wedstryde vir die Stormers gespeel het is jy amper seker van jou plek in die Bokspan vir die volgende 10 jaar.

Henry ·

Jantjies sal veel beter vaar indien hy ‘n goeie skrumskakel het wat hom voorvoet-bal kan gee en weet dat ‘n skrumskakel se primêre taak is om sy losskakel van ‘n vinnige en goeie diens te voorsien. Faf se holderstebolder aangeë nadat hy eers besluit het wat hyself met die bal wil maak, verseker dat enige losskakel met de Klerk as skrumskakel sal sukkel. Veral op internasionale vlak waar daar veel minder tyd is as waaraan siele soos de Klerk gewoond is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.