Pollard kan die rigtingwyser wees

Handré Pollard (Foto: GB Jordaan)

Handré Pollard (Foto: GB Jordaan)

Handré Pollard kan aanstaande jaar die baken vir die beleërde Springbokspan wees.

Dis nie net Suid-Afrikaners wat duim vashou dat Pollard van sy knie- en skouerbeserings herstel  het nie. Hy word in Nieu-Seeland as een van die invloedrykste toetsspelers beskou en word deur rugbykenners op die stuff.co.nz-webwerf as een van die vyf spelers genoem om aanstaande jaar dop te hou.

Die ander is drie All Blacks, Nene Milner-Skudder, Sonny Bill Williams en Jordie Barrett, die 19-jarige jonger boetie van die All Black-losskakel Beauden Barrett. Dan is die Engelse slot Maro Itoje ook op die lysie en so ook Pollard.

Sonder Pollard was die Bokke bra rigtingloos en nie een van Elton Jantjies of Pat Lambie (en selfs Johan Goosen wat nie werklik kans op nr. 10 gekry het nie) kon ʼn verskil maak nie. Morné Steyn is aan die einde van sy internasionale loopbaan ook gevra om uit te help, maar nou ja …

Die groot vraag is wie Pollard se skakelmaat sal wees, want Faf de Klerk en Rudy Paige het ook maar met rukke en stote gespeel. Ek sou Piet van Zyl meer kans gegee het en dan moet Cobus Reinach van sy langtermyn-besering terugkeer.

Kom ons gaan terug na elke span se verlede: wanneer hy ʼn losskakel van wêreldgehalte het, kan jy maar oorlog toe gaan.

Noem hulle maar op: Naas Botha, Bennie Osler, Hannes Brewis, Henry Honiball, Joel Stransky, Barry John, Hugo Porta, Michael Lynagh, Jonny Wilkinson en Dan Carter.

Spelers wat hul spel kon afwissel, wat nie bang is om die voordeellyn aan te val nie, wat takties goed kon skop en pale toe kon korrel. Wilkinson, Pollard en Honiball het boonop die vermoë om die vloedgolwe van aanstormende voorspelers te stuit.

Pollard, wat die hele seisoen misgeloop het, is net 22 jaar oud, maar hy het reeds 20 toetse gespeel en 188 punte aangeteken.  Hy het drie jaar agtereenvolgens vir die Junior Bokke gespeel en het 141 punte in die toernooie van 2012, 2013 en 2014 aangeteken. Hy was in die span wat die toernooi in 2013 gewen het en kaptein van die Junior Bokke wat in 2014 se eindstryd teen Engeland verloor het  nadat hulle die All Blacks in die halfeindronde gestuit het.

Dalk is daar tog lig in die tonnel, mits Pollard van sy beserings herstel en net losskakel speel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Wimpie Havenga ·

Ons bou steeds ons rugby om 1 speler ..wereld rugby word deur 15 man gespeel wat trots het ..wat hul talent 200% uitleef en dan daarna gaan beroeps rugby speel

GB Jordaan ·

Ek is ‘n groot Pollard aanhanger, maar hy sal hom ongelukkig na sy beserings eers behoorlik moet bewys. Ek hoop regtig vir sy, die Bulle en die Springbokke se part dat die beseringspook hom aan die begin van 2017 se Superreeks gaan miskyk. Die Bulle en die Bokke het ‘n generaal van sy kaliber nodig…… Onthou tog net die spreekwoord van die “swaeltjie wat nie die somer maak nie.” Dit gaan BAIE meer as ‘n “in vorm” Pollard neem om die Bulle en die Bokke weer op peil te kry.

Jaybee ·

Stem volmondig saam met GB Jordaan, N fikse Pollard is ‘n moet vir ons rugby. Die berig skrywer is ook heeltemal in die kol wat die skakel maat betref. Huidiglik sal ek Piet van Zyl saam met Pollard kies. Kom ons hoop maar Pollard het volkome herstel en sal beserings vry bly.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.