Pollard meen Reinach beskik oor X-faktor

Die Springbokke se Handré Pollard. Foto: Phill Magakoe/AFP.

Dit is altyd sleg om ’n speler aan ’n besering af te staan, maar dit lyk darem nie of die Springbok-bestuur slapelose nagte sal hê in hul soektog na iemand om Faf de Klerk se skoene vol te staan nie.

Cobus Reinach was die afgelope naweek op sy aanvallende beste in Montpellier se sege teen Racing 92 in Frankryk. Die blitsige skrumskakel het twee drieë gedruk en hy het gewys dat daar beslis nie ’n plaasvervanger vir spoed op ’n rugbyveld is nie.

Handré Pollard het op binnesenter vir Montpellier uitgedraf en die Springbok-losskakel het vandeesweek Reinach se lof besing.

“Cobus het uitstekend gespeel en hy het aan almal gewys dat hy oor die X-faktor beskik,” het Pollard aan AFP gesê.

Herschel Jantjies en Grant Williams is die ander skrumskakels in Jacques Nienaber (Springbok-afrigter) se groep.

“Ons weet wat waartoe Herschel en Cobus in staat is, terwyl Grant die nuwe ou in die span is. Gelukkig moet ek nie besluit wie gaan speel nie, maar ons is baie bevoorreg om so baie talentvolle skrumskakels in die groep te hê.”

Volgens Pollard sien hy ook uit om vir Rassie Erasmus weer deel van die Springbok-toeropset te hê.

SA Rugby se direkteur van rugby verskyn hierdie naweek voor ’n tugkomitee nadat hy vroeër ’n video van 62 minute uitgereik het waarin hy videogrepe uitwys waar hy glo die Springbokke in die eerste toets in Kaapstad teen die Britse en Ierse Leeus te na gekom is.

Die 48-jarige Wêreldbeker-wenner het die Suid-Afrikaners se onlangse toer na Australië misgeloop sodat die span se aandag op hul wedstryde kon bly en nie deur ’n moontlike mediastorm afgetrek word nie.

“Dit sal wonderlik wees om vir Rassie terug te hê, ons het hom beslis gemis. Hy beskik oor die unieke vermoë om die beste uit die spelers te kry.”

Erasmus sal egter nie weer water op die veld vir die spelers aandra nie en hy sal saam met Jacques Nienaber in die afrigtersgebied wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Harley Davidson

Wat is die verskil tussen sa rugby en Netflix want albei gebruik velkleur as ‘n stelsel so dan is albei mos rasisties, en is daar nog plek vir rasisme in 2021?