Terwyl die Springbokke gereedmaak vir Sondag se Wêreldbeker-wedstryd teen Roemenië in Bordeaux, sal hulle ook die Engelse Premierliga fyn dophou.
Handré Pollard is op Leicester Tigers se plaasvervangersbank ingesluit vir Vrydagaand se wedstryd teen die Sale Sharks.
Die 29-jarige losskakel is een van die Suid-Afrikaners se bystandspelers en talle ondersteuners meen dat hy in die binnebaan is om die beseerde Malcolm Marx se skoene in Frankryk vol te staan.
Jacques Nienaber het juis bevestig dat Marx se plaasvervanger nie noodwendig uit voorspelergeledere sal kom nie.
“Ons hou die vordering van spelers soos Handré en Lukhanyo Am dop, maar ons sal beslis na die Leicester Tigers-wedstryd kyk,” het die Springbok-afrigter gesê.
Volgens Nienaber sal die amptelike plaasvervangerbesluit ná die Roemenië-kragmeting geneem word.
Dit sal onregverdig jeens die wedstrydgroep wees as die Bok-bestuur nou te veel op ʼn geskikte plaasvervanger konsentreer. Daarbenewens kan verdeelde aandag ook katastrofies in ʼn Wêreldbeker-toernooi wees; jy gly immers die seerste wanneer jy nie die piesangskil raakgesien het nie.
???????? pic.twitter.com/OCDBQQUPQb
— Leicester Tigers (@LeicesterTigers) September 14, 2023
Jake White skryf egter in ʼn rubriek vir Rugby365 dat hy verbaas sal wees as daar nie reeds planne beraam word om Pollard in Frankryk te kry nie.
“Waarom is dit so belangrik om Pollard deel van die opset te maak? Wanneer ʼn mens die geskiedenisboek van die Wêreldbeker-toernooie nadertrek, sal jy sien dat daar nie baie drieë in die halfeindstryde en eindstryd gedruk word nie. Stelskopwerk is bitter belangrik in uitspeelwedstryde,” het die Wêreldbeker-wenafrigter geskryf.
Marx sal egter met ʼn seer hart gemis word.
Die 29-jarige haker is heel waarskynlik die Bokke se beste speler – veral as jy fisieke teenwoordigheid, skrumwerk en balsteelvaardighede in ag neem.
Maar met Bongi Mbonambi, Deon Fourie en selfs Marco van Staden reeds in Frankryk, lyk die Suid-Afrikaners se hakerspens nog heel vol.
Leicester Tigers teen Sale Sharks: Mike Brown (heelagter), Josh Bassett (regtervleuel), Guy Porter (buitesenter), Dan Kelly (binnesenter), Ollie Hassell-Collins (linkervleuel), Charlie Atkinson (losskakel), Joe Powell (skrumskakel), Matt Rogerson (agtsteman), Emeka Ilione (flank), Hanro Liebenberg (kaptein en flank), Mike Williams (slot), Cameron Henderson (slot), Joe Heyes (stut), Charlie Clare (haker) en Francois van Wyk (stut). Plaasvervangers: Nic Dolly, James Whitcombe, Will Hurd, Sam Carter, Kyle Hatherell, Tom Whiteley, Handré Pollard en James Shillcock.

Dit gaan ‘n seer klap vir Manie Libbok wees.