Pollard tree sterk na vore as Bokkaptein

Handré Pollard – sterk kapteinskandidaat. (Foto: GB Jordaan)

Die Springbokafrigter, Rassie Erasmus, sal geen fout begaan as hy Handré Pollard as een van sy twee Springbokkapteins oorweeg vir die komende toetse teen Wallis en Engeland nie.

Ná Warren Whiteley se ontydige kniebesering, wat Dinsdag tot sy onttrekking aan die Lionstoer na Australasië gelei het, en die onsekerheid oor wanneer Eben Etzebeth, wat Whiteley as Bokkaptein opgevolg het weer slaggereed sal wees, het die kandidaatlysie verder gekrimp.

Die Bokke pak Wallis op 2 Junie in Washington DC terwyl die meer ervare en sterkste span in Suid-Afrika sal voorberei vir die toetsreeks van drie toetse teen Engeland, wat op 9 Junie op Ellispark begin.

Een van Erasmus se probleme is dat twee van sy voorkeurkandidate, Eben Etzebeth en Whiteley, maande laas gespeel het vanweë hul beserings en nou albei weer beseer is.

Siya Kolisi was ʼn paar weke gelede nog in die binnebaan om die Bokke te lei, maar ʼn insinking in sy spel en ʼn gebrek aan leierskap, het vrae oor hom laat ontstaan.

Duane Vermeulen, wat vir Toulon speel, is een van Erasmus se gunstelinge, maar daar hang ʼn vraag oor sy beskikbaarheid, net soos verlede jaar en die jaar daarvoor.

As Toulon tot die eindstryd van die Franse Top14-reeks op 2 Junie deurdring, sal Vermeulen nie beskikbaar wees nie. Die Wallis-toets val ook buite die toetsvenster en hoewel Vermeulen nie weer na dié Franse span terugkeer nie, weet ʼn mens nie hoe styf die eienaar, Mourad Boudjellal, sy rug vir oulaas sal maak nie.

Plaaslik bly Ruan Botha, die Sharks se kaptein, asook Franco Mostert (Lions se instaankaptein) oor, maar Botha het in onguns verval en is nie eens deur Erasmus na die Sharks-beplanningkamp in Umhlanga uitgenooi nie.

Mostert is ook nie seker van sy plek in die opdrafspan nie en dit laat Pollard sterk na vore tree, tensy Erasmus vir Adriaan Strauss, wat tans baie goeie rugby speel, kan oortuig om hom vir die Wallis-toets beskikbaar te stel.

Wat tel in Pollard se guns? Hy is kalm, berekenend, het ervaring aan sy kant en is seker van sy plek in die opdrafspan.

Hy kan die spel reg lees en was al kaptein van die Junior Springbokke en die Bulls, en boonop is hy gewild by sy medespelers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Lol ·

Pieter jy hemel Pollard so op , publiek sal dink jy is sy peetpa?

lol x 2 ·

Huidiglik, met SARU se voorskrifte, het Elton Jantjies en Damian Willemse beter kans om in die opdrafspan te wees. Jy wil tog nie hê jou kaptein moet net as plaasvervanger opgestuur word nie??

Herman Goosen ·

Ja, alhoewel ek dink Pollard as losskakel sal beslis nie die wereld se beste haal nie is hy dalk as kaptein wel ‘n sterk kandidaat in aggeneme dat daar maar min ordentlike leierskap talent op die oomblik beskikbaar is.

Ek is nie gepla wie die kaptein of wie in die span is nie. Ek ondersteun Springbok rugby lankal nie meer nie sedert dit net ‘n haastige ongeorganiseerde polities korrekte of dinosaurus versameling van spelers is wie se embleem geen meer intimiderings of respek waarde oor het nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.