Potgietersrus lê grondslag vir wenkultuur

Potgietersrus se wenspan. (Foto: Chantelle Herselman)

Potgietersrus se wenspan. (Foto: Chantelle Herselman)

Potgietersrus is besig om die grondslag te lê waarop `n wenkultuur gebou kan word, sê die klub se hoofafrigter, SJ Jonker.

Die klub het die seisoen met `n goeie oorwinning oor die sterk span van Loskop (Groblersdal) afgeskop en dit opgevolg deur die Loskopsewestoernooi te wen.

Jonker sê die klub het vanjaar met `n nuwe gesindheid begin en pak alles wat hy doen met volle oorgawe aan.

“`n Mens sal verbaas staan wat jy in die lewe kan bereik as jy elke keer jou beste gee.”

Spanne soos Loskop, Middelburg Panthers, Nylstroom, Ellisras, die Universiteit van Limpopo, die Universiteit van Venda en `n Barbarians-span het naas Potties aan die toernooi deelgeneem.

Potties het 160 punte teen sy teenstanders se 77 aangeteken.

Die tweede span het in die plaateindstryd verloor, maar Jonker sê die manne het alles in die stryd gewerp en selfs van die wedstryde sonder reserwes gespeel.

“Groter toewyding sal `n mens nêrens kry nie,” het Jonker aan Pale Toe! gesê.

potgietersrus - logoPotties se eerste span het al sy wedstryde soos volg gewen:

♦ 26-7 teen Loskop II

♦ 26-7 teen die Universiteit van Limpopo

♦ 24-17 teen Middelburg Panthers

♦ 31-12 teen Nylstroom (kwarteindstryd)

♦ 29-15 teen Loskop (halfeindstryd)

♦ 24-19 (ná bykomende tyd) teen Ellisras (eindstryd).

Willem Dreyer het die wendrie gedruk.

Jonker sê heelwat spelers het uitgeblink en van die jong manne het hul hande opgesteek en gewys dat hulle trotse Pottiekaners is.

Hans du Plessis (ses), Willem Dreyer, Klaas Gelane (vyf elk), Phil Herselman (drie), Anthony Hawken, Jan Vorster (twee elk) en Phillip Fuls het Potties se drieë gedruk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.