Powell gaan die leviete voorlees

Neil Powell (Foto: ur7's.com)

Neil Powell (Foto: ur7’s.com)

Dissipline op die rugbyveld is ononderhandelbaar.

Ek praat nou nie net van vuilspel nie, maar om binne die reëls te hou, te sorg dat jou span nie onnodig geel en rooi kaarte afstaan nie.

Die afgelope naweek in Las Vegas het die Blitsbokke (weer) deurgeloop toe hulle in die halfeindronde met 14-12 deur Australië uitgeboender is. Die Argentynse skeidsregter, Federico Anselmi, het Suid-Afrikaanse ondersteuners se bloed laat kook toe hy Rosco Speckman twee keer met geel kaarte gestraf het, wat tot twee strafdrieë gelei het.

Was dit te kras? Het Speckman sy arms in albei gevalle gebruik en sou die Aussies in albei gevalle drieë gedruk het? Dit help nie om ná die wedstryd die kykweers op televisie te ontleed en die skeidsregter aan die wasgoedraad op te hang nie. Die besluit is binne `n paar sekondes op die veld geneem en die Bokke het verloor.

Die Blitsbokke se afrigter, Neil Powell, het geen doekies omgedraai nie en gaan die leviete vandeesweek aan die spelers voorlees.

“As jy ses of sewe strafskoppe plus `n geel kaart afstaan, is daar geen manier hoe jy enige span sal klop nie, veral nie in die uitkloprondes nie. Die gevolge sal die een of ander tyd gedra moet word as die spelers nie luister nie.

“Ons sal na onsself moet kyk en daar sal vandeesweek harde woorde val,” het Powell volgens rugby365.com gesê.

Die reeks is die eerste keer in 1999/2000 gespeel en tot dusver het die Blitsbokke 103 geelkaarte en `n rooi kaart gekry.

Fidji is die grootste oortreders – hulle het reeds 153 geel kaarte ontvang en 10 rooies.

Dit laat `n mens dink waarom Nieu-Seeland die reeks al 12 keer gewen het, Fidji twee keer en die Blitsbokke en Samoa (120 geel kaarte) net een keer elk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frans ·

Jammer dat ‘n wedstryd op so’n wyse verloor is en dat dieselfde speler by altwee voorvalle betrokke was.’n Goeie laagvat met die kantlyn naby sou beslis een drie gekeer het.

Jannie ·

Neil is ‘n fantastiese afrigter doelgerig en weet wat hy doen. Ek vertrou hy sal die lat inlê.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.