Powell hoop Kok en kie sorg vir wenresep

Die Sharks se Werner Kok. Foto: AFP.

ʼn Omgekrapte Neil Powell het nie doekies omgedraai nie toe die Sharks vroeër sleg tweede teen die Stormers in Durban gekom het.

Volgens die Durbaniete se direkteur van rugby help dit veel om goed in die een wedstryd te vertoon (lees die geslaagde karaktertoets teen Edinburgh) net om lelik uit die bus in die daaropvolgende kragmeting te val.

Bestendigheid is dus die wagwoord en die Sharks sal ongetwyfeld weer hierdie naweek op die wenpad wil kom wanneer hulle met die Lions in ʼn Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd op Ellispark kragte meet.

Die voormalige Blitsbokke-afrigter kan op die dienste van Werner Kok, Vincent Tshituka en Dylan Richardson steun nadat al drie spelers hul terugkeer ná beserings gemaak het.

Dan sal Carlu Sadie – wat gereeld in die Johannesburgers se skrums gesak het – saam met Dan Jooste en Ntuthuko Mchunu die Sharks se voorry vorm.

Powell verwag ʼn fisieke aanslag van die Lions en hy het ses voorspelers en twee agterspelers op sy plaasvervangersbank gekies.

Vir die tuisspan sal Manuel Rass en Gianni Lombard onderskeidelik die beseerde Henco van Wyk en Jordan Hendrikse se skoene volstaan, terwyl Jaco Kriel en Ruan Venter ook weer in die opdrafspan is.

Hoewel Ivan van Rooyen erken dat die Lions tans met die rug teen die muur is, meen hy dat die komende wedstryd ook ʼn gulde geleentheid vir sy span is om hul seisoen weer op koers te kry.

“As die Sharks met hul selfvertroue sukkel (ná daardie Stormers-nederlaag) sal ons daaruit moet munt slaan. As hulle egter op alle suiers vuur sal ons ʼn manier moet vind om hulle onder druk te plaas,” het die Lions-hoofafrigter gesê.

Die wedstryd begin m֧ôre om 15:00 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Lions: Quan Horn (heelagter), Rabz Maxwane (regtervleuel), Manuel Rass (buitesenter), Marius Louw (kaptein en binnesenter), Edwill van der Merwe (linkervleuel), Gianni Lombard (losskakel), Morné van den Berg (skrumskakel), Emmanuel Tshituka (agsteman), Ruan Venter (flank), Jaco Kriel (flank), Ruben Schoeman (slot), Willem Alberts (slot), Asenathi Ntlabakanye (stut), PJ Botha (haker) en JP Smith (stut). Plaasvervangers: Michael van Vuuren, Morgan Naude, Ruan Dreyer, Ruan Delport, Sibusiso Sangweni, Ruhan Straeuli, Sanele Nohamba en Rynhardt Jonker.

Sharks: Aphelele Fassi (heelagter), Werner Kok (regtervleuel), Francois Venter (buitesenter), Rohan Janse van Rensburg (binnesenter), Thaakir Abrahams (linkervleuel), Curwin Bosch (losskakel), Grant Williams (skrumskakel), Phepsi Buthelezi (kaptein en agtsteman), Henco Venter (flank), James Venter (flank), Gerbrandt Grobler (slot), Reniel Hugo (slot), Carlu Sadie (stut), Dan Jooste (haker) en Ntuthuko Mchunu (stut). Plaasvervangers: Fez Mbatha, Dian Bleuler, Hanro Jacobs, Vincent Tshituka, Dylan Richardson, Sikhumbuzo Notshe, Cameron Wright en Ben Tupuai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.