Powell kies mengsel van jonges en ervare manne

Philip Snyman – terug ná sy dyspierbesering (Foto: lequipe fr)

Die Blitsbokke sal aanstaande naweek in Las Vegas en die week daarna in Vancouver sonder ses staatmakers hul puntevoorsprong in die sewesreeks van Wêreldrugby probeer vergroot.

Die afrigter Neil Powell het ʼn aantal jong spelers vir die twee toernooie gekies met Muller du Plessis wat nog nie in ʼn toernooi gespeel het nie. Ryan Oosthuizen (vier toernooie), Zain Davids (sewe toernooie), Selvyn Davids (een) en Stedman Gans (ses) is die ander relatiewe groentjies.

Daar is darem vier manne met meer as 50 toernooie se ervaring: Snyman (50), Kyle Brown (62), Branco du Preez (58) en Cecil Afrika (57).

Benewens die vier spelers wat weens Superrugby-verpligtinge nie beskikbaar is nie, is die twee spelbrekers, verlede jaar se Sewesspeler van die jaar, Rosko Specman, en Justin Geduld nie beskikbaar nie.

Saam met die verlies van Seabelo Senatla, Sikhumbuzo Notshe, Kwagga Smith en Tim Agaba, is die beserings van hierdie twee snellers wat sleutel is tot die Blitsbokaanvalle ʼn groot verlies.

Ruan Nel is egter weer fiks en is in die span ingesluit en die kaptein Philip Snyman neem weer die leisels oor nadat hy weens ‘n dyspierbesering nie in Hamilton kon speel nie. Dylan Sage het ook van sy besering herstel.

Die Blitsbokke speel vir die derde opeenvolgende toernooi in dieselfde groep as Engeland, met Wallis en Kanada wat albei op hul beste nie te versmaai is nie.

Die Suid-Afrikaanse span vir die twee toernooie –

1. Ryan Oosthuizen (4 toernooie, 12 wedstryde, 0 punte)
2. Philip Snyman (kaptein – 50 toernooie, 225 wedstryde, 321 punte, 58 drieë)
3. Dylan Sage (19 toernooie, 104 wedstryde, 110 punte, 22 drieë)
4. Zain Davids (7 toernooie, 25 wedstryde, 10 punte, 2 drieë)
5. Werner Kok (33 toernooie, 165 wedstryde, 370 punte, 74 drieë)
6. Kyle Brown (62 toernooie, 312 wedstryde, 410 punte, 82 drieë)
7. Branco du Preez (58 toernooie, 291 wedstryde, 1107 punte, 81 drieë)
8. Muller du Plessis (nog nie gespeel nie)
9. Selvyn Davids (1 toernooi, 5 wedstryde, 2 punte)
10.Cecil Afrika (57 toernooie, 297 wedstryde, 1 368 punte, 165 drieë)
11. Siviwe Soyizwapi (13 toernooie, 59 wedstryde, 180 punte, 36 drieë)
12. Stedman Gans (6 toernooie, 23 wedstryde, 10 punte, 2 drieë)
13. Ruhan Nel (23 toernooie, 127 wedstryde, 217 punte, 43 drieë)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.