Powell se Blitse nou amptelik die wêreldkampioen

Suid-Afrika se Blitsbokke het Sondag die eindstryd van Wêreldrugby se sewesreeks in Parys gewen deur Skotland met 15-5 te klop en is ook ná die toernooi as  sewesrugby se wêreldkampioen gekroon.

Om slegs die eindstryd te haal was reeds  genoeg vir die Blitsbokke om Wêreldrugby se 2016-’17-sewesreeks te wen. Toe Engeland in die halfeind deur Skotland geklop is, kon hulle nie meer die reeks wen nie.

Vroeër het Fidji, wat die toernooi as die tweede beste span binnegegaan het, in die kwarteind verloor en hul kanse was toe daarmee heen.

Suid-Afrika het in agt van die nege toernooie tot dusver die halfeind gehaal en vyf keer met die titel weggestap.

Die Blitsbokke het laas in 2008-’09 die reekstitel gewen en kan nou weer met reg daarop aanspraak maak dat hulle die wêreld se beste span is. Die huidige afrigter Neil Powell was in 2009  lid van die wenspan onder Paul Treu en is die eerste speler wat ook as afrigter die wêreldreeks wen.

♦  Skotland het in Parys in die openingswedstryd van die groepfase vir opslae gesorg deur Suid-Afrika te klop, maar in die eindstryd was die wêreldkampioen se begeesterde verdediging deurslaggewend teen die Skotte wat die eindstryd onoorwonne binnegegaan het.

Daarbenewens het Werner Kok, Dylan Sage en Philip Snyman vir die wenspan gaan druk terwyl Scott White vir Skotland agter die doellyn gaan boer het. Laasgenoemde het net ná halftyd gebeur toe die Blitsbokke ʼn 10-0-voorsprong geniet het. Vroeër die dag het die Blitse eers met Samoa (12-0) in die kwarteind en daarna Nieu-Seeland (26-5) in die halfeind afgereken.

Dit was wraak vir nie net hulle neerlaag teen Skotland in die groepfase nie, maar ook vir die hartseer-verloor teen hulle verlede jaar in die Londense eindstryd.

♦  Vir die laaste toernooi in die reeks sal die Blitsbokke aanstaande naweek op Twickenham in groep A teen die VSA, Wallis en Kenia speel.

Groep B se spanne is Skotland, Frankryk, Argentinië en Rusland en die All Blacks speel in groep C teen Fidji, Kanada en Japan.

Die tuisspan Engeland het Samoa, Australië en Spanje as teenstanders.

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Kollie ·

Fantasties. Baie geluk manne. Specman het ‘n groot verskil gemaak met sy terugkeer.

Koos1 ·

Wat ‘n voorreg om die span in aksie te sien! Gaan leer asb ALLE 15 man rugby julle wen resep. Leer hulle ook asb dat om te kan wen MOET jy die bal in hand hou!
BAIE GELUK aan die hele span, afrigters, bestuurders, en almal wat by die poging betrokke was, ja tot die persoon wat die sokkies moet was. Julle gee so baie prys dat ons julle spel kan geniet, wel ek waardeer dit baie! Dankie dat julle SA se naam hoog dra, net jammer dat alle politieke persone se monde toe is hieroor!

Frans C ·

Dit het weereens bewys dat met die regte gesindheid en afrigting waarin klem op al die basiese aspekte van rugby gelê word,sukses haalbaar is.

Wat dit nog meer merkwaardig maak is datdit gedoen is ,nadat die WP dit nodig geag het om een van die span se belangrikste aanvalswapens nl Senatla terug te roep vir Super 18 diens.
Ek kan nie onthou of ek die man eenkeer daarna op die veld gesien het nie. Hopelik sal die unies nou besef dat samewerking tussen alle kodes nodig is vir volgehoue sukses.Blitzbokke julle gee ons nuwe hoop, fantastiese prestasie.

Kollie ·

Kwagga Smith kan ook maar teruggaan sewes toe, hy’s uitstekend daar. Senatla was die afgelope tyd meestal beseer dis hoekom hy nie gespeel het nie.

Voorlaaier ·

Wel gedaan kerels!…Baie trots op julle!….Enigste lig te punt in SA rugby op di oomblik!…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.