Powell tevrede met jong Blitsbokke se kragvertoning

Die Blitsbokke het met die louere in Vancouver weggestap. Foto: Twitter.

Die Blitsbokke het vir die tweede keer in die geskiedenis die Kanada-sewestoernooi gewen toe hulle Kenia met 38 – 5 in die bekereindstryd geklop het.

Die Suid-Afrikaners het ses drieë in die kragmeting gedruk, terwyl ’n vlieënde Angelo Davids sommer in die proses ook die rekord vir die meeste drieë deur ’n individuele speler in Vancouver verbeter het.

Die 22-jarige Kapenaar het tien keer deur sy teenstanders se verdediging geglip om punte vir sy span aan te teken.

Ja, groot spanne soos Nieu-Seeland en Fidji was weliswaar afwesig in Vancouver, maar ná die teleurstelling van die Olimpiese Spele – waar die span met ’n vyfde plek tevrede moes wees – is dit goed om weer op die wenpad te wees.

“Dit is ongelooflik om net weer rugby te speel en boonop ook nog voor entoesiastiese toeskouers. Ek is baie trots op die span; daar was baie jong spelers wat die toekoms van sewesrugby in Suid-Afrika is en hulle het hulself goed van hul taak gekwyt,” het Neil Powell (afrigter) gesê.

Shakes Soyizwapi se span het elke uitspeelwedstryd op ’n drafstap gewen en hulle het 119 punte in dié kragmetings aangeteken en slegs 22 afgestaan.

Die Blitsbokke het nou 20 punte op die HSBC-sewespunteleer.

  • Vancouver-uitslae:

53 – 0 teen Mexiko

34 – 7 teen Spanje

33 – 14 teen Kenia

54 – 5 teen Spanje (kwarteindstryd)

26 – 12 teen Groot-Brittanje (halfeindstryd)

38 – 5 teen Kenia (eindstryd).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

jou gewete ·

bietjie van n hol oorwinning, sonder NZ en Fidji. so laat die vreugde vure maar eers net so n paar droee blare wees

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.