Powere Junior Bokke ruk reg, haal halfeindronde

Die Junior Springbokke het Donderdagaand in Narbonne ʼn nagmerrievertoning in die eerste helfte teen Frankryk opgedis maar desondanks vir die halfeindronde gekwalifiseer.

Hulle het die laaste groepwedstryd teen Frankryk met 29-46 verloor, maar het danksy ʼn bonuspunt nadat ʼn totale vernedering teen rustyd hul voorland was, genoeg ligapunte behaal om in die halfeind te kan speel.

Die Junior Bokke speel nou Dinsdagaand in Narbonne teen Engeland in die een halfeind terwyl Frankryk teen Nieu-Seeland te staan kom.

Dit was Frankryk se eerste oorwinning teen Suid-Afrika in die dekade van die o.20-Wêreldkampioenskap.

♦ Die eerste helfte toe Frankryk die Juniors verneder het, het baie herinner aan die twee Springbokloesings die afgelope twee jaar teen die All Blacks. Die Junior Bokke was met een woord treurig.

Net voor rustyd al het die Junior Bokke 80 duikslae moes maak, waarvan 28 (35%) mis was. Hulle is in die eerste skrum heeltemal verwoes; het hulle eerste lynstaan verloor en die volgende geklap waarvan die Franse gaan druk het; en het ʼn dryfmaal-drie van sowat 15 meter van ʼn lynstaan afgestaan.

Gate is sommer hier, daar en oral vir die Franse spelers met hulle flinke hanteerwerk gelos om deur te wals en dan aansluiting by die goeie ondersteuning te vind. Dit was sjampanjerugby en vaardigheid op sy beste. En in jou binneste het jy gedink: ai, as ons maar in Suid-Afrika sulke rugby kan speel …

Die Junior Bokke was een-dimensioneel, het hul min balbesit hoofsaaklik gebruik om met die voorspelers te dryf en het heeltemal te veel van hulle min besit aan die Franse omgekeer.

Frankryk se drieë-bonuspunt was reeds na 26 minute daar, en toe die Bokke uiteindelik hulle eerste drie na 36 minute druk, het die Franse reeds 36 punte gehad. Die rustydtelling was 36-7 in Frankryk se guns.

♦ Ná rustyd was daar ten minste ʼn bietjie meer durf en het die Junior Bokke nog ʼn voorspelerdrie met hul dryfwerk gedruk voordat een van die min goeie skrums darem dié keer wyd gespeel is en Wandisile Simelane in die hoek oor is. Hy het daarmee die voorste driedrukker in die toernooi geword.

Nog twee drieë het danksy dryfwerk gevolg en van sprankelrugby aan Bokkant was daar min sprake.

♦ ʼn Mens kon in veral daardie eerste helfte nouliks glo dat die Juniors deur ʼn spul oefenkampe is voordat die span gefinaliseer is en ook daarná, dat hulle vriendskaplike wedstryde in Suid-Afrika en toe drie wedstryde op ʼn Britse toer gespeel het.

Puntemakers ‒

Suid-Afrika (7) 29: Drieë: Schalk Erasmus, Tiaan van der Merwe, Wandisile Simelane, Alulutho Tshakweni, Sazi Sandi. Doelskoppe: Lubabalo Dobela, Gianni Lombard
Frankryk (36) 46: Drieë: Jordan Joseph (2), Louis Carbonel, Pierre-Louis Barassi, Romain Ntamack, Jean-Baptiste Gros. Doelskoppe: Carbonel (3), Ntamack (2). Strafdoele: Carbonel (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Al ·

Eerste helfte is besit nie omgekeer nie – dit is weggeskop. Tweede helfte meer “besitlik” met die bal en toe in die wedstryd ingekom. Hoop die ou stormer (Jean Roux) besef “skop-en-hoop” rugby is nie die oplossing nie. Hoop ons senior bokkies besef dit ook Saterdag.

Frans C ·

Die spanne wat die Bokkies geklop het het nie die mas in die reeks opgekom.Frankryk is die sesnasiekampioen.
Soos mense in die 1994 verkiesing aan wanvoorstellings blootgestel is,word die rugbypubliek aan wanvoorstellings blootgestel.Daar word naamlik geglo dat as jy spelers kies en aan ‘n paar oefenkampe laat deelneem en laat speel teen ander deelnemende spanne,dan het jy ‘n wespan.

Sommige Super 15 afrigters lei aan dieselfde houding.Die Franse het met beter samespel wat net kan onttstaan as ‘n span aan strawwe kompetisie oor ‘n lang tydperk getoets word,die Bokkies van die veld afgeblaas in die eerste helfte en hul in die skrum en lynstane verwoes.

Dit was so erg dat ek nie verder wou kyk nie en toe die wedstryd tussen die Kiwis en Aussies gekyk het,waar toe my verbasing die Aussiepak sowaar ‘n strafdrie teen die
Kiwis losskrum.

Nou hoop ek regtig dat dieselfde nie Saterdag met die Bokke op Ellispark (nuwe naam
klink nie lekker nie) gaan gebeur nie met Rassie se transformasiespan.Rassie het nou in ‘n de Klerk in rugby verander en vertel ewe plegtig dat dit die beste spelers is,wat tans beskikbaar is.

Transformeer na wat na ‘n Bafana-Bafanaspan?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.