Pretorianers se Pole skok Nederland in toets

Pole, wat deur twee Suid-Afrikaners afgerig word, het Nederland Saterdag in Lodz, Pole, tot in sy fondamente geskud deur die Here XV in die reeks om die Rugby Europatrofee te klop.

Blikkies Groenewald en Chris Buitendach, ʼn gewese Bulls-afrigter, se span het met ʼn strafdoel in die laaste minute die wedstryd met 14-13 beklink.

Die Pole kan Nederland uit die tweede plek dwing deur later vandeesmaand met Switserland af te reken.

Portugal het reeds seker gemaak dat hy die reeks wen.

Saterdag se uitslag behoort ook die Pole se ranglysplek (tans 32ste) te verbeter.

Die Here XV word eweneens deur ʼn Suid-Afrikaner, Gareth Gilbert, afgerig. Hy het voorheen ook Botswana se nasionale span gebrei.

♦ Dit was ʼn dag van verrassings in die Europese reekse, met die grootste waarskynlik Bosnië en Herzegovina se sege van 22-15 oor die voorloper Slowenië in Ljoebliana, Slowenië, in Afdeling 2 (Suid).

Dié verrassende oorwinning maak die wenspan ʼn ernstige aanspraakmaker om die afdeling te wen.

♦ In Afdeling 1 (Suid) het Israel sy tuiswedstryd in Netaya teen Andorra onverwags ver met 57-17 gewen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.