Pretorius sluit by Blitsbokke aan vir Kaapse kragmeting  

Tiaan Pretroius in aksie tydens die Hongkong-sewestoernooi in April vanjaar. (Foto: Peter Parks/AFP)

Tiaan Pretorius is die enigste nuwe speler in die Blitsbokke-span vir die naweek se Kaapstad-sewestoernooi.

Hy vervang die beseerde Christie Grobbelaar in die span wat verlede naweek die Dubai-sewestoernooi gewen het. Grobbelaar het sy enkel in Dubai beseer.

Dit sal Pretorius, wat al in vyf sewestoernooie gespeel het, se eerste verskyning in die Kaapstad-toernooi wees.

Sandile Ngcobo, die Blitsbokke se hoofafrigter, is vol vertroue dat Pretorius spoed en veelsydigheid tot die span sal voeg.

Pretorius, wat aan Paul Roos Gimnasium skoolgegaan het en die Westelike Provinsie en SA Skole op senter verteenwoordig het, het in 2022 sy Blitsbok-buiging in Dubai gemaak.

“Tiaan is nou al vir ʼn seisoen of twee aan die gang en verstaan wat ons op die veld wil bereik,” sê Ngcobo.

“Die voordeel daarvan om hom in die groep te hê, behalwe sy spoed, is dat hy óf loskop óf haker kan speel, amper soos Ryan Oosthuizen ook, en dit gee ons goeie opsies om te roteer. Hy is ook baie goed op die bal en sal ʼn bedreiging wees by die afbreek wanneer hy op die veld is.

“Tiaan het die afgelope paar maande hard saam met die res van die span gewerk, so hy sal sonder probleme kan inskakel.”

Volgens Ngcobo gaan die verskillende poel-teenstanders in Kaapstad nie veel aan hul strategie verander nie.

“Ons sal die toernooi dieselfde benader as in Dubai, hoewel daar verskillende teenstanders in ons poel sal wees,” het hy gesê.

“Dit is ʼn nuwe begin met die wete dat die dinge waaraan ons gewerk het voor die seisoen afgeskop het, belonings sal bring as ons gedissiplineerd en gefokus bly.”

Ngcobo het die Dubai-toernooi om mediese redes misgeloop en gesê hy is verheug om weer langs die veld te wees.

Die Blitsbokke skop Saterdag hul aanslag teen Brittanje (10:50) af, gevolg deur die VSA (14:18) en laastens teen Ierland (19:40).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.