Privatisering: Daar’s heelwat meriete en ook heelwat vrae

Mark Alexander (Foto athletics-africa.com)

Mark Alexander (Foto athletics-africa.com)

Suid-Afrikaanse rugby is finansieel in die knyp, en die ondersoek na die moontlike privatisering van rugbyunies is op die oog af  ʼn goeie gedagte. Daar bly egter ʼn hele aantal kwelvrae.

Uiteraard sou Mark Alexander, die nuwe voorsitter van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru), die saak deeglik oordink het. Hy is ʼn ervare, kundige en baie suksesvolle sakeman en ook ʼn voorste sportadministrateur buite rugby.

Die gedagte sal ook oor die volgende twee maande of so verder gevoer word deur verskeie werkswinkels waar ander insette verkry sal word.

Ons vra nietemin die volgende vrae, aangesien daar (heel verstaanbaar) nog nie ʼn magdom inligting oor die moontlike nuwe rigting bekend is nie en welwetende dat ʼn hele aantal hiervan seker deur Alexander ook oordink is.

Die vrae word dus in hierdie vakuum van geen inligting tot dusver nie gevra.

♦  Met die privatisering is ʼn logiese en belangrike vraag die volgende: in hoe ʼn mate sal Saru nog beheer oor die unies en die franchise uitoefen? Onthou, Suid-Afrika sit met ʼn heel ander indeling as byvoorbeeld Frankryk en Brittanje, waar hulle nie ʼn tweevlak-kompetisiestruktuur het soos Suid-Afrika met sy franchise’e en ook die ander provinsiale spanne nie.

In Frankryk en Engeland is die beheer onafhanklik van die unies gesetel en is daar gedurig tussen die beheerliggaam en die klubs haakplekke oor die beheer van spelers.

In Frankryk is die FFR (die beheerliggaam) ook nie eens by die onderhandeling oor TV-regte betrokke nie. Dis deel van die voormalige afrigter van die Hane en sportminister (Secretary of Sport) van Frankryk, Bernard Laporte, se “manifes” in die komende presidentsverkiesing van die FFR dat die federasie ʼn sê moet kry.

♦   Ook betreffende die gedagte dat die Springbokke voortaan deur Saru gekontrakteer word, is daar die vraag: hoe gaan dit die ‘maatskappye’ raak?

♦  Dit moet aanvaar word dat die groot unies, oftewel die franchise’e, vir hul eie bestuur en finansiële lot verantwoordelik sal wees. Dit is immers ʼn ‘besigheid’ en dit is waar die winste en verliese sal lê.

Maar wat van die ander provinsiale (junior) rugby by die franchise’e?  Sal die nuwe eienaar, wat moontlik soveel as 74% van die unie oftewel maatskappy sal kan besit, genoeë daarmee neem om sy geld/kontantvloei/moontlike winste te waag op die administrasie van skolerugby, junior provinsiale spanne, vrouerugby, sewes, subunie-wedstryde, amateur provinsiale rugby, ensovoorts?

ʼn Mens hoef maar net te dink wat die onder 19- en onder 21-spelers se provinsiale kontrakte die ‘maatskappy’ sal kos. Dit is natuurlik as elke ‘maatskappy’ verplig word om junior rugbyspanne tot hulle eie (korttermyn) finansiële nadeel in die veld te stoot totdat die spelers wasdom bereik.

Hier is uiteraard heelwat dinkwerk wat voorlê en dit lyk of ʼn tweeledige struktuur gebruik sal moet word.  Maar sal dit die probleem van die unies en dus Saru met betrekking tot uitgawes en verliese oplos?

♦   Hoe gaan unies wat nie deel van franchise’e is nie kan bestaan? Sal hulle steeds der miljoene, glo in die omgewing van R30 miljoen per unie, van Saru kry uit die Superrugby-televisiekontrakte?

♦  Wat sal die deurlopende voedingsbronne van spelers vir die franchise en die unies wees?

♦  ʼn Kernvraag is seker ook hoe die ‘maatskappy’, tans ʼn unie, finansieel gewaardeer sal word. Hoeveel betaal ʼn koper vir 74% van enige franchise (of franchise en unie) as dit blyk dat hy in die rooi is of nie sy huidige verpligtinge kan nakom nie? En glo my, ʼn hele paar van die grotes sukkel.

En hoeveel moontlike aandeelhouers is daar wat in sukkelende besighede sal belang stel?

♦  Hoe sal borgskappe werk? Sal Emirates of DHL of Cell C of Toyota byvoorbeeld bereid wees om ʼn maatskappy te borg waar hulle blootstelling ‘gesteel’ word met die bemarkingsklem wat op die maatskappy self val?

Soos ons gesê het: privatisering mag die oplossing wees – en ʼn oplossing is dringend nodig.

Maar daar is vrae, en as Alexander en kie die antwoorde op dié hierbo en ander het, is dit moontlik ʼn lewensvatbare uitkoms.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Nico K ·

Ek stem saam dat privatisering baie nadele het, maar dan was ek ook teen proffesionele sport gekant, maar dit was ‘n onafwendbaarheid. Ek wonder of ons privatisering op die lang duur sal kan keer. Hoe werk dit in Europa, met veral sokker. Is daar geld wat na ontwikkeling gaan, ens.

Frans C ·

Voordat van privatisering gepraat word moet daar eers duidelikheid gekry word oor wat amateurrugby en beroepsrugby is. In Boks is die onderskeid duidelik en is daar ‘n duidelike oorgang van die een na die ander, maar nie in rugby nie.Persoonlik dink ek dat ‘n mens skolerugby,universiteitsrugby,klubrugby en selfs die Curriebeker as die amateurgedeelte moet behou. Dit is in die fases waar al die vaardighede wat nodig is in die sport aangeleer en beoefen moet word.
Beroepsrugby begin mi wanneer daar op internasionale vlak meegeding word,soos in die Super 18,rugbykampioenskap en wêreldbeker.Die grootste probleem is egter kontraktering.Wanneer ‘n speler ‘n kontrak teken om vir sy deelname vergoed te word is hy nie langer mi ‘n amateurspeler nie maar ‘n beroepsspeler.
In rugby vind ‘n vermenging van die twee plaas op klubvlak.Die vraag is nou wie beheer wat moet die amateurbeen deur amateurs beheer word en die beroepsbeen deur profess ionele afrigters en hoe word fasiliteite gedeel.
Beroepsrugby waar spelers hul diense kan aanbied aan die hoogste bieder ontwrig Suid Afrika se rugbykrag. Dit is duidelik geillustreer in die jongste Curriebeker,waar die spanne wat die meeste spelers aan die Springbokspan afgestaan het ook die swakste in die kompetisie gevaar het.
Die WP, Lions, Sharks was bv nie ‘n skaduwee van die spanne wat met hul Springbokke gespeel het. ‘n Mens moenie afbreuk maak aan die Bulle en die Vrystaat se vertonings nie,hul het die beste van die kompetisie gemaak.

Callie van der Merwe ·

Die waarheid is nooit aanvaarbaar in die land nie!!

callie ·

Hoekom is die unies bankrot. Daar kom miljoene vanaf tv regte en borge. Al waar rugby slegter vaar is met toeskouer getalle. Toeskouers gaan nie geld uitgee om verloorspanne te sien speel nie. Hoekom verloor SA spanne en gaan rugby agteruit. Hoofoorsaak bly kwotas. Geld oorsee is n faktor maar jong spelers loop want hy weet al is hy hoe goed, hy ding mee met n kwota.

Bekende sakeman het altyd gese n besigheid bestaan net uit 3 dele.
1- Jy moet n produk besit(RUGBY)
2- Produk moet verkoop om kontant te genereer(TV regte,borge en toeskouers by wedstryde)
3- Besnoei kostes(Rugby raad, voorsitters en honderde ander wat niks weet maar baie geld kry)
Kan iemand uithelp met hoekom is rugby in SA bankrot

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.