Pro 14: eerste Europese spanne na SA bekend

September se bepalings vir die Pro14-reeks is bekend, en daarmee saam die eerste Europese spanne wat in Suid-Afrika in aksie sal wees.

Die Southern Kings sal die Ierse provinsie Leinster die naweek van 15-16 September tuis ontvang, met die Cheetahs wat in Bloemfontein met die Italiaanse klub Zebre van Parma kragte meet.

Leinster was die afgelope seisoen tweede in die rondomtalie, maar is in die halfeindronde deur die Walliese streekspan, die Scarlets, uitgeknikker.

Zebre was op sy beurt heel laaste, en die Italiaanse Rugbyfederasie moes onlangs ingryp om te red wat te redde is voor die klub in duie stort.

Albei die Suid-Afrikaanse spanne speel egter hul eerste twee wedstryde oorsee.

Die Cheetahs speel Vrydag 1 September in Belfast teen die Ierse provinsie Ulster, en die volgende week, waarskynlik in Limerick, teen Munster, wat die afgelope seisoen deur die Springbok en oud-Vrystater Rassie Erasmus afgerig is, en boaan die punteleer geëindig het.

Die Southern Kings, wat deur die reeks se voorsitter, die legendariese Draak en Britse en Ierse Leeu Gerald Davies, as een van die avontuurlustigste spanne in die Suidelike Halfrond bestempel word, speel op Parc y Scarlets in Llanelli, teen die Pro 12-kampioen; en ʼn week later teen die Ierse provinsie Connacht, die 2016-kampioen.

Die Cheetahs speel hul volgende twee wedstryde eweneens in Bloemfontein, eers teen Leinster, en dan teen die Walliese streekspan die Ospreys van Swansea (vierde in 2017).

Ná ʼn tweede tuiswedstryd, dié keer teen Zebre, is die Kings egter weer op pad Wallis toe om teen die Newport Gwent Dragons (tweede laaste in 2017) te staan te kom.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.