Pro14: Baie spanveranderinge sal ʼn rol speel

Om, selfs op hulle tuisvelde, voorspellings te waag as die Cheetahs en die Kings speel, is nie wys nie.

Dit is wéér die geval vir Saterdag se wedstryde, veral met die baie veranderinge wat die twee Suid-Afrikaanse spanne se afrigters vir die tiende ronde in die Pro14-reeks aangebring het.

Die Cheetahs speel om 17:00 teen Connacht in die Vrystaat-stadion en die Kings om 19:15 teen Benetton in die Madibaz-stadion.

Die Cheetahs, wat twee van hul afgelope drie wedstryde gewen het, het in die agterkop seker die wete dat een van hul twee oorwinnings teen Ierse spanne teen die einste Connacht was.

Die Vrystaters het verlede week, hantering uitgesluit, met rukke goeie rugby teen Benetton gespeel. Daar is egter heelwat veranderinge aan albei spanne ‒ nege deur die Cheetahs, vyf deur Connacht ‒ wat ʼn voorspelling oor die Bloemfontein-kragmeting nóg moeiliker maak.

Die Vrystaters sal moet uithaal teen Connacht wat ná die bonuspunt-wen teen die Kings na derde plek in afdeling A van die Pro14-reeks opgeskuif het.

Connacht kan hul sterre dank dat hulle dié een kon aftrek met die hartseer-probleme in die Kings se voorry wat die wedstryd moontlik aan die Iere besorg het.

Maar die Cheetahs moet ook bewus wees dat hierdie nie die Connacht van verlede jaar is nie. Met die reeks nog nie heeltemal by die halfpadmerk nie, benodig Connacht net twee oorwinnings in 11 wedstryde om hul wenrekord van verlede jaar te ewenaar ‒ ʼn noemenswaardige verbetering.

♦ En die Kings? Hulle sal met dieselfde durf as verlede week moet speel. Met sewe veranderinge waarvan vier in die agterlyn wat nou óók deur beserings ontwrig is, sal Benetton glo hulle kan dié een wen.

Baie sal afhang van hoe die nuwe Kings-senterpaar, Tertius Kruger en Meli Rokoua, langs Masixole Banda, dié keer as losskakel, sal vaar.

Die Kings se pak is ʼn woelige eenheid, ietwat ontwrig deur beserings, maar darem ook nog nooit dominant in hul 30 wedstryde in die vorige en huidige Pro14-reekse nie. Dit sal seker wéér so wees, en durf is wat gevra word.

Die slegte nuus is dat die Kings al drie hul kragmetings met Benetton tot dusver verloor het, en ná vyf wedstryde teen Italiaanse spanne nog nooit aan die wenkant was nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.