Pro14 bied vreugde en verdriet vir talle uit SA

JJ Hanrahan (Foto: Pro 14 Rugby/Twitter)

Vreugde en verdriet was verskeie Suid-Afrikaners se deel in Saterdag se Pro14-uitspeelwedstryde.

Johann van Graan, ʼn gewese hulpafrigter van die Springbokke, se Ierse provinsie Munster het Benetton Treviso, die eerste Italiaanse klub om die reeks se uitkloprondes te haal, in ʼn naelbytstryd op Thomond Park, Limerick, met 15-13 geklop (rustyd 3-10).

In die ander uitspeelstryd, tussen nóg twee Ierse provinsies, het Ulster vir Connacht op Kingspan, Ulster, met 21-13 geklop (rustyd 11-3).

Die vierde Ierse provinsie, Leinster, en die Skotse superklub Glasgow Warriors het regstreeks tot die halfeindstryd deurgedring deur boaan die punteleer in hul onderskeie afdelings te kom. Die spanne wat tweede en derde was, het om die ander halfeindplekke uitgespeel.

Nóg ʼn Suid-Afrikaner het ʼn deurslaggewende rol in Munster se sege gespeel, maar twee ander sal die wedstryd so gou as moontlik wil vergeet.

Luidens berigte het die flank CJ Stander, ʼn gewese Bulls-speler wat vir Ierland en die Leeus toetsrugby speel, in ʼn losskrum die strafskop afgedwing wat Benetton se lot verseël het. Laasgenoemde se skrumskakel, Dewaldt Duvenhage, wat vir Suid-Afrika A gespeel het, het die bal weggeskop en die skeidsregter het die skop tien meter nader aan die pale gegee, waarop JJ Hanrahan van die middellyn af met die skop geslaag het.

Benetton se flank Braam Steyn, ʼn gewese SA o. 20-speler wat toetsrugby vir Italië speel, het op sý beurt, toe sy span met 10-3 voor was, die bal met ʼn oop doellyn voor hom verloor. Dit, nadat hy die afgelope seisoen briljante rugby gespeel het.

Die Italianers het rustyd met 10-3 voorgeloop, en was 20 minute voor die einde nog met 13-6 voor, toe Hanrahan die Munster-wa met drie strafdoele deur die drif getrek het.

Munster speel in die halfeindstryd teen Leinster, die heersende kampioen, teen wie hy in verlede jaar se halfeindronde met ʼn enkele punt (15-16) verloor het.

Ulster se Bok-agsteman Marcell Coetzee, wat uitmuntend vertoon het, se drie skaars drie minute voor die einde van sy span se kragmeting teen Connacht het die uitslag bo alle twyfel gestel. Ulster was op daardie tydstip slegs met 14-13 voor.

Ulster moet Glasgow nou in die halfeindronde aandurf.

Die puntemakers –

Munster 15 (3) – Strafdoele: Tyler Bleyendaal (2), JJ Hanrahan (3).

Benetton Treviso 13 (10) – Drie: Iliesa Ratura Tavuyara. Doelskop: Tommaso Allan. Strafdoele: Tommaso Allan (2).

Ulster 21 (11) – Drieë: Nick Timoney, Marcell Coetzee. Doelskop: Billy Burns. Strafdoele: John Cooney (3).

Connacht 13 (3) – Drie: Bundee Aki. Doelskop: Jack Carty. Strafdoele: Jack Carty (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.