Pro14: Cheetahs en Kings vir die wolwe gegooi

Die vertonings van die Cheetahs en Southern Kings in die eerste ronde van die Pro14-rugbyreeks is nie goeie leesstof op ʼn Sondagoggend nie.

Albei een wedstryd gespeel, albei verloor; 29 punte vir, 99 teen; slegs vier drieë gedruk, maar 14 afgestaan.

Maar dit is geen verassing nie dat die Cheetahs Vrydagaand in Ulster met 42-19 deur Ulster geklop is, en die Kings Saterdag met 57-10 deur die Walliese Scarletts afgeransel is nie. Albei spanne is laaste in hul onderskeie afdelings, glad nie die begin waarop daar gehoop is nie.

Ja, daar moet nog baie water in die see loop, want die reeks eindig eers aanstaande jaar in Mei.

Al die oorsese spanne moet nog draaie in Suid-Afrika kom maak wanneer die skoen aan die ander voet sal wees, maar die verwagtinge wat geskep is, was gans te hoog.

Jinne mense, die twee spanne is juis van hul Superrugbystatus gestroop omdat hulle nie die mas kon opkom nie. Hoe kon die organiseerders en die ringkoppe dan verwag het dat hulle so vroeg ʼn duik teen van die beste Europese spanne sou maak?

Hulle kon nog nie behoorlik vir die nuwe aanslag en Europese toestande voorberei nie, hul reisreëlings het weens onvoorsiene omstandighede veel te wense oorgelaat, want hoe kan ʼn mens van ʼn span verwag om eers op die Woensdag voltallig te wees vir ʼn wedstryd op ʼn Vrydagaand, wanneer hulle reeds die Maandagoggend uit Bloemfontein vertrek het?

Boonop het al die Europese spanne die afgelope jaar met rasse skrede vooruitgegaan weens die invloed van Nieu-Seelandse afrigters en ʼn rits Suid-Afrikaanse en Nieu-Seelandse spelers.

Hul verdediging is prima, hul besluitneming en ondersteuning is eersteklas en wanneer hulle moet afrond, word dit gedoen.

Dit kan, en sal sekerlik vorentoe beter gaan, maar Munster staan nou vierkant in die Cheetahs se pad en Connacht wag op die Kings.

Hopelik nie, maar ek verwag nog sooibrand.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Frans C ·

Dit word nou duidelik dat hoe ondeurdag Saru se besluit was om die spanne van Suid Afrika
in die Pro 14 kompetisie te laat deelneem.Die Pro 12 spanne word bedryf soos die sokkerspanne,jy laai hul eenvoudig met die room van die Suidelike halfrond spelers en plaaslike voorste spelers om spanne op die veld los te laat wat die vloer met twee swak
Super 18 spanne vee.

Al wat nou gaan gebeur is dat die uitblinkers in beide die Kings en Cheetahspanne gou aanbeidings gaan kry van spanne in die kompetisie.Daar is nou sprake dat die Leeus en Stormers ook belangstel om in die Noorde te speel.Hou gouer hoe beter daar van die idee afgesien word.As jy daar wil speel moet jy ‘n volle sterkte Super 18 span aangevul,veral voorlangs,met kwaliteitvoorspelers,daaraan kom as jy nie aan die korste end wil trek nie.

Jy kan nie daar wil speel nie en ook plaaslik meeding in die Curriebeker,want soos gewoonlik as jy op twee stoele wil sit val jy gewoonlik tussen die twee. ‘n Mens wil nie onnodig swartgallig raak nie,maar die Curriebeker word nou ‘n klug,want dit is mos die huidige Curriebekerkampioen wat oorsee ‘n pak slae gekry het.

Boetman ·

Dit was eintlik die Cheetahs se 3de span, want 28 spelers is saam euro toe

Ondersteuner ·

Kom nou! Gee die twee spanne ‘n kans! Hulle speel al van Februarie af en nou moet hulle weer aanpas teen nuwe teenstanders. Ek is net bly hulle sit nie nou sonder inkomste nie!

CdV ·

Ek voel ook dit gaan meer oor geldgierigheid en arrogansie van SARU en beide unies. Hoekom Cheetas nie weer by Leeus inlyf en OP by Sharks of WP?Toe super rugby 8 of 10 of 12??? of wat ook al geloots was, was dit veronderstel om STREEKSSPANNE te wees. Die idee was om die sport na die mense (platteland) te neem en stadions te roteer en so was wedstryde onder andere in George, Kimberley, Polekwane, Nelspruit, Wellington gespeel. Toe kom die onmin tussen die Leeus en die Cheetas oor geld (onthou julle nog die Cats). Borge tree toe en die hele edele gedagte om die sport toeganklik vir almal te maak, na die mense te neem en om spel te groei en ontwikkel is met tjeks en bizarre ooreenkomste op sy kop gekeer. Hoekom het die OP so “gemoan” om superstatus te kry? Lekker geld vir die administrateurs van die spel – nie vir die spelers of ter ontwikkeling van die spel nie. Ook tot nadeel van ons as ondersteuners met skokkende kaartjie pryse. Gaan net oor GELD en nie een huidige rugby administrateur het enige inbors nie!!!

gerhard ·

Cdv, dit klug van die Groot bonde kom al baie jare. In my jongdae het hulle talent deur die weermag en polisie gemanupileer enn studendte beurse gebied. Dit was hoekom Noord Transvaal daai tyd so goed was. Nou moet hulle n ander tegniek soek Om nie as die uitskot span gekeur Te word nie. Hoe was die Bulle se vertoning die jaar. Wat was hulle uitslae? Hoe het hulle presteer teen die Kings en die Cheetahs

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.